2 PETRUS 2:13-22

2 PETRUS 2:13-22 Bybel vir almal (ABA)

Hulle sal swaarkry, dit is die straf vir die slegte dinge wat hulle doen. Hulle geniet dit om ook in die dag fees te vier en om te veel te eet en te drink. Hulle is soos vuil kolle op klere. Terwyl hulle saam met julle feesvier, hou hulle aan om mense te bedrieg, en so bring hulle skande oor julle. Hulle soek altyd vroue wat seks wil hê met hulle, hulle wil altyd meer en meer sonde doen. Party mense se geloof is nie sterk nie, die vals leermeesters wil daardie mense verlei. Hulle wil altyd meer en meer dinge hê. Die Here sal hulle vervloek. Die vals leermeesters doen hierdie dinge omdat hulle opgehou het om te lewe soos die Here wil hê. Hulle het gedoen wat Bileam seun van Bosor gedoen het. Bileam was baie lief vir geld en daarom het hy verkeerde dinge gedoen om die beloning te kry. Maar die Here het gesê Bileam doen iets wat verkeerd is. 'n Donkie het vir Bileam die profeet gekeer sodat hy nie 'n dom ding gedoen het nie. 'n Donkie is 'n dier wat nie kan praat nie, maar hierdie donkie het met Bileam gepraat soos 'n mens praat. Hierdie vals leermeesters is soos fonteine wat droog is, daar kom nie water uit nie. Hulle is soos miswolke, 'n stormwind waai hulle weg. Daarom het die Here vir hulle 'n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek. Hulle dink hulle sê baie belangrike dinge, maar hulle woorde beteken niks. Hulle wil mense verlei om ook slegte dinge te doen, mense wat probeer om weg te kom van mense wat verkeerd lewe. Die vals leermeesters belowe dat hulle die mense vry sal maak, maar die vals leermeesters is self slawe van alles wat sleg en swak is, want wanneer iets jou oorwin het, dan is jy sy slaaf. Die vals leermeesters het voorheen die vuil dinge van die wêreld gedoen, maar hulle het dit gelos omdat hulle ons Here en Redder Jesus Christus goed leer ken het. Maar toe het hulle weer die vuil dinge begin doen en hulle het slawe geword van daardie vuil dinge. Wanneer dit gebeur, dan is hulle nog slegter as wat hulle voorheen was. As hulle nie geweet het wat die Here sê en hoe hulle moet lewe nie, dan was dit beter vir hulle. Maar nou weet hulle dit, hulle het dit gehoor by die apostels, maar hulle het opgehou om te doen wat die Here wil hê. Hulle het gedoen soos die spreekwoorde sê, spreekwoorde wat waar is

2 PETRUS 2:13-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag 'n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het 'n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking. Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het, maar die bestraffing van sy eie oortreding ontvang het: die stom lasdier het met die stem van 'n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder. Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur 'n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

2 PETRUS 2:13-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang. Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle aan uitspattighede te buite gaan. Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die vervloektes! Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg, maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van 'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet. Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou. Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer. Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf. Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is. Van hulle is die spreekwoorde waar

2 PETRUS 2:13-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

en as loon vir onreg sal húlle veronreg word. Hulle beskou dit as genotvol om helder oordag te fuif. Terwyl hulle saam met julle feesvier, is hulle skandvlekke, wat hulle verlustig in hulle losbandigheid. Hulle oë is vol owerspel, en hulle kry nie genoeg van sonde nie; hulle verlei onstandvastige siele; hulle harte is geoefen in hebsug; hulle is vervloektes! Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. Hy is egter tereggewys vir sy oortreding: 'n Donkie, wat stom is, het, deur met die stem van 'n mens te praat, 'n einde gemaak aan die profeet se waansin. Hierdie mense is opgedroogde fonteine, miswolke voortgedryf deur 'n stormwind, mense vir wie die diepste duisternis gereed staan. Want terwyl hulle aanmatigende onsin verkondig, lok hulle deur onsedelike liggaamlike drange diegene uit wat met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef – mense wat aan hulle vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee. Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin. Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die •geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing: “'n Hond keer terug na sy eie braaksel,” en “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”

2 PETRUS 2:13-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hulle sal die loon van ongeregtigheid ontvang, soos die wat dit behaag om oordag oproer te maak. Hulle is vlekke en vlekke, terwyl hulle met hul eie bedrog smul terwyl hulle saam met jou smul; Met oë vol owerspel, en wat nie kan ophou van sonde nie; bedrieglike onstabiele siele: 'n hart wat hulle geoefen het met gierige praktyke; vervloekte kinders: wat die regte weg verlaat en gedwaal het, die weg van Bíleam, die seun van Bosor, wat lief was vir die loon van ongeregtigheid; Maar is bestraf oor sy ongeregtigheid: die stomme esel wat met die stem van die mens spreek, het die waansin van die profeet verbied. Dit is putte sonder water, wolke wat deur 'n storm gedra word; aan wie die mis van duisternis vir ewig bewaar is. Want wanneer hulle groot swellende woorde van ydelheid spreek, lok hulle deur die begeerlikhede van die vlees, deur baie moedswilligheid, die wat rein was, vrygeraak van die wat in dwaling lewe. Terwyl hulle vryheid aan hulle belowe, is hulle self die dienaars van die verderf; want deur wie 'n mens oorwin is, is hy in slawerny gebring. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besoedelinge van die wêreld ontvlug het, hulle weer daarin verstrik en oorwin word, is die laaste einde vir hulle erger as die begin. Want dit was vir hulle beter gewees om nie die weg van geregtigheid te ken nie, as om, nadat hulle dit geken het, af te draai van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar dit het met hulle gebeur volgens die ware spreekwoord: Die hond het weer tot sy eie braaksel verander; en die sog wat gewas was, het in die modder wentel.

2 PETRUS 2:13-22 Die Boodskap (DB)

En die beloning vir al die kwaad wat hulle hier op aarde aangevang het? Pyn en lyding, vir altyd! Hulle geniet dit om in die middel van die dag die een dronkpartytjie na die ander te hou. Kyk net wat vang hulle alles aan wanneer hulle saam met julle feesvier; hulle gee hulle dan oor aan allerhande uitspattighede. Hulle gaan heeltemal oorboord in hulle dwaalweë. Watter skaamtelose mense! Hulle kan hulle oë nie van ander mense se huweliksmaats afhou nie. Die een perversiteit na die ander is hulle kos. Ongelukkig verlei hulle ook ander mense wie se geloof nog nie so sterk is nie om al hierdie dinge saam met hulle te doen. Boonop is hulle geldgierig, die vervloekte spul! Hierdie spul het die reguit pad verlaat. Hulle is van koers af. Hulle doen presies wat Bileam, die seun van Beor, vroeër aangevang het. Hy is daardie vals profeet wie se liefde vir geld hom duur te staan gekom het. Maar die Bybel vertel vir ons dat Bileam se donkie net betyds met hom in ’n menslike stem gepraat het. Dit het gekeer dat die profeet met sy bose planne voortgaan. Die mense wat daar by julle optree, is soos fonteine wat opgedroog het. Hulle is soos miswolke wat deur ’n stormwind rondgewaai word. Daarom word daar in die donkerste plekke van die doderyk vir hulle ’n plek gereed gehou. Hulle is ongeskik en praat die grootste nonsens. Hulle verlei onskuldige mense om saam met hulle aan hulle afstootlike seksuele sondes deel te neem. Nuwe gelowiges wat maar pas van hulle sondige verlede afgesien het, is veral die prooi van dié mense. Hulle sleep die niksvermoedende gelowiges saam met hulle in die ellende in. Natuurlik beloof hulle hemel en aarde aan hierdie arme mense. Maar van die beloofde vryheid kom daar net mooi niks nie, want die mense wat hierdie leë beloftes maak, is self in die kloue van die dood vasgevang. Immers, as iets jou in sy mag beethet, is jy ’n slaaf daarvan. Wanneer mense uit die gemors van hierdie sondige wêreld gekom het nadat hulle ons Here en Redder, Jesus Christus, leer ken het, en hulle val daarna weer terug in al hulle sondes, is hulle uiteindelik slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir daardie mense beter gewees het dat hulle nooit op God se pad begin stap het nie as dat hulle daarop begin stap het en toe van Hom en sy voorskrifte af weggedwaal het. Daar is twee spreekwoorde wat hierdie mense baie goed beskryf: “Dit is net ’n hond wat so dom is om na sy eie braaksel terug te loop.” En: “Dit is net ’n vark wat so dom is om in die modder te gaan rol nadat hy skoon gewas is.”

2 PETRUS 2:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omdat hulle lewe voor God nie reg is nie, kry hulle presies dít wat hulle verdien. Vir hulle is die toppunt van plesier om helder oordag wilde partytjies te hou. As hulle by julle eet, is dit baie sleg vir julle naam, want terwyl hulle saam met julle feesvier, is dit vir hulle lekker om julle saam te vat op die paaie waarop hulle self verdwaal het. Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes! Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor, wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen. Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het. Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds. Hulle is bombasties en praat onsin. Hulle gebruik die losbandige luste van die mens se natuurlike drange as lokaas om die mense wat pas ontsnap het van dié wat op die verkeerde pad is, te verlei. Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in diens van korrupsie. As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf. En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif wat aan hulle oorgelewer is. Van hulle is dié spreekwoorde waar: “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe.” en: “’n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol.”