2 Korinthiërs 9

9
Insameling met dankbaarheid en blydskap
1Eintlik is dit vir my onnodig om aan julle oor die dienslewering aan die •heiliges te skryf. 2Want ek ken julle bereidwilligheid, waarmee ek oor julle by die Macedoniërs spog – dat Agaje al sedert 'n jaar gelede gereed is, en dat julle ywer die meeste van hulle aangespoor het. 3Maar ek het die broers gestuur, sodat ons gespog oor julle in hierdie saak nie verydel sal word nie, en julle gereed sal wees soos ek gesê het julle sal wees – 4en ook sodat, indien daar dalk Macedoniërs saam met my sou kom en julle in hierdie saak onvoorbereid sou aantref, ons ons nie sal hoef te skaam nie, om nie eers van julle te praat nie. 5Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle te gaan, en die •dankoffer wat julle vroeër beloof het, in orde te kry, sodat dit gereed sal wees as 'n werklike dankoffer, en nie as iets wat afgedwing is nie.
6 Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes. 7Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. 8En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk. 9Soos daar geskryf staan:
“Hy het wyd uitgestrooi;
Hy het aan die armes gegee;
sy •geregtigheid bly vir ewig.”
10En Hy wat saad aan die saaier voorsien en ook brood as voedsel, sal aan julle saad verskaf en dit vermeerder, en Hy sal die vrug van julle geregtigheid laat toeneem. 11So word julle in elke opsig verryk, om in alles vrygewig te wees, en dit loop deur ons bemiddeling uit op danksegging aan God. 12Want die hulp van hierdie bediening voorsien nie net in die •heiliges se behoeftes nie, maar lei ook tot 'n oorvloed van baie uitinge van danksegging aan God. 13Op grond van die bewys wat deur hierdie diensbetoning gelewer word, verheerlik hulle God oor julle gehoorsaamheid aan julle belydenis van die evangelie van •Christus, en oor die vrygewigheid van julle bydrae aan hulle en aan almal. 14Terselfdertyd verlang hulle, in hulle gebede vir julle, vuriglik na julle, weens die oortreffende genade wat God aan julle bewys het. 15Aan God die dank vir sy onbeskryflike gawe!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid