2 Korinthiërs 8

8
Insameling vir die armes in Jerusalem en Judea
1 Ons laat julle ook weet, broers, van die genade van God wat aan die •gemeentes in Macedonië gegee is: 2dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in 'n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af. 3Ek getuig dat hulle na vermoë, ja, selfs bo vermoë, bereidwillig was. 4Hulle het pleitend by ons aangedring om deel te kan hê aan die genadewerk van hulpverlening aan die heiliges. 5Dit was nie slegs soos ons gehoop het nie; trouens, hulle het hulleself eers aan die Here gegee, en toe, deur die wil van God, ook aan ons. 6Gevolglik het ons Titus sterk aangemoedig om, soos wat hy hierdie genadewerk reeds begin het, dit ook net so by julle te voltooi. 7Soos julle nou van alles oorvloed het, geloof en welsprekendheid en kennis en alle ywer en die liefde, wat deur ons toedoen onder julle is, sorg dat julle ook in hierdie genadewerk oorvloedig is.
8Ek sê dit nie as 'n opdrag nie, maar om aan die hand van ander se ywer die egtheid van julle liefde te toets. 9Want julle ken die genade van ons Here Jesus •Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word. 10En ek gee my mening hieroor, want dit strek tot julle voordeel – julle wat reeds 'n jaar gelede begin het om dit nie net te doen nie, maar dit ook te wil doen. 11Voltooi dan nou ook die taak, sodat, net soos julle bereidwillig was om dit te wil doen, julle ook bereidwillig sal wees om dit te voltooi uit wat julle het. 12 Want as daar bereidwilligheid is, is dit aanneemlik volgens wat 'n mens het – nie volgens wat jy nie het nie. 13Dit beteken nie dat ander verligting kry en julle swaarkry nie, maar wel dat daar ewewig sal wees. 14Julle huidige oorvloed vul hulle tekort aan, sodat hulle oorvloed weer julle tekort kan aanvul, en daar so ewewig kan wees. 15Soos daar geskryf staan:
“Die een met baie,
het nie te veel gehad nie,
en die een met net 'n bietjie,
nie te min nie.”
Titus en sy medewerkers
16En aan God die dank, wat dieselfde ywer in julle belang in die hart van Titus gegee het. 17Want hy het wel ons versoek ontvang, maar het ook baie ywerig en vrywillig na julle toe vertrek. 18En saam met hom het ons die broer gestuur wie se lof in al die •gemeentes besing word oor sy werk vir die evangelie. 19En nie net dit nie: hy is ook deur die gemeentes aangewys as ons reisgenoot in hierdie genadewerk, wat deur ons verrig word tot verheerliking van die Here en as bewys van ons bereidwilligheid. 20So wil ons voorkom dat iemand ons verdink oor hierdie ruim som wat ons behartig. 21 Want ons is bedag op wat reg is, nie net voor die Here nie, maar ook voor mense. 22Saam met hulle stuur ons ons broer, vir wie ons dikwels en in vele opsigte getoets, en ywerig bevind het, en wat nou nog yweriger is, deur sy groot vertroue in julle. 23Wat Titus betref, hy is my deelgenoot en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is gesante van die gemeentes, 'n eer vir •Christus. 24Lewer dan aan hulle voor die gemeentes die bewys van julle liefde en van ons trots op julle.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid