2 Korinthiërs 11

11
Paulus en die vals apostels
1As julle maar 'n klein bietjie dwaasheid van my sou kon verdra! Verdra my tog maar! 2Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan •Christus, verbind het, om julle as 'n rein maagd aan Hom aan te bied. 3Maar ek is bang dat, soos die slang vir Eva met sy geslepenheid mislei het, julle gedagtes dalk bederf kan raak, verwyderd van die opregte en reine toewyding aan Christus. 4Want as iemand 'n ander Jesus kom verkondig wat ons nie verkondig het nie, of julle ontvang 'n ander gees wat julle nie ontvang het nie, of 'n ander evangelie wat julle nie aanvaar het nie, verdra julle dit geredelik. 5 Ek reken inderdaad dat ek in geen opsig terugstaan by die sogenaamde super-apostels nie. 6Ek mag onbedrewe wees as spreker, maar nie onbedrewe in kennis nie – dit het ons julle in elke opsig en op allerlei maniere laat sien.
7Of het ek 'n sonde begaan deur myself te verneder, sodat julle verhoog kon word, omdat ek die evangelie van God sonder betaling aan julle verkondig het? 8 Ander •gemeentes het ek beroof deur vergoeding te aanvaar om julle te bedien. 9En terwyl ek by julle was en 'n tekort gehad het, het ek ook niemand geldelik belas nie, want die broers wat van Macedonië af gekom het, het voldoende in my behoeftes voorsien. Ek het my daarvan weerhou, en sal my daarvan weerhou, om in enige opsig vir julle 'n las te wees. 10Die waarheid van Christus is in my: Hierdie roem van my sal nie verswyg word in die gebiede van Agaje nie. 11Waarom? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet, ek het!
12Maar wat ek doen, en sal voortgaan om te doen, is om diegene te verhinder wat 'n geleentheid soek om in die saak waaroor hulle spog, as ons gelykes beskou te word. 13Want sulke mense is vals apostels, slinkse werkers, terwyl hulle hulleself vermom as •apostels van Christus. 14En geen wonder nie; want selfs Satan vermom hom as 'n engel van die lig! 15Daarom is dit ook nie vreemd as sy dienaars hulle ook vermom as dienaars van •geregtigheid nie. Hulle einde sal volgens hulle werke wees.
Paulus se lyding vir die evangelie
16 Ek sê weer: Laat niemand my as 'n dwaas beskou nie! Of anders: Aanvaar my dan nou maar as 'n dwaas, dat ek ook 'n bietjie oor iets kan spog. 17Wat ek nou gaan sê, sê ek nie soos die Here dit sou doen nie, maar soos 'n dwaas, in vertroue op my eie gespog. 18Aangesien daar baie is wat, volgens menslike standaarde, oor iets spog, sal ek dan ook maar oor iets spog. 19Want julle verdra mos graag dwase mense, al is julle so verstandig! 20 Want julle verdra dit as iemand van julle slawe maak, as iemand julle uitsuig, as iemand julle misbruik, as iemand hooghartig optree, en julle in die gesig slaan. 21Ek sê dit tot my skande, dat ons te swak geword het daarvoor. Maar waaroor iemand ook al waag om te spog – ek praat soos 'n dwaas – ek waag dit ook:
22 Is hulle Hebreërs?
Ek ook.
Is hulle Israeliete?
Ek ook.
Is hulle nakomelinge van Abraham?
Ek ook.
23Is hulle dienaars van •Christus?
– nou praat ek sonder verstand –
ek nog meer:
oorvloediger in harde werk,
meer dikwels in die tronk,
uitermate geslaan,
en dikwels in doodsgevaar.
24Van die Jode het ek vyf keer veertig houe minus een gekry;
25drie maal is ek met stokke geslaan;
een maal is ek gestenig;
drie maal het ek skipbreuk gely;
'n nag en 'n dag lank het ek
die diepsee trotseer;
26dikwels op reis,
met gevare van riviere,
gevare van rowers,
gevare van die kant van my eie volk,
gevare van die kant van die heidene,
gevare in die stad,
gevare in die woestyn,
gevare op see,
gevare onder vals broers,
27 met harde werk en swaarkry,
dikwels met slapelose nagte,
honger en dors,
dikwels sonder kos,
koud en nakend.
28En afgesien van nog ander ongenoemde dinge, is daar daaglikse druk op my – my kommer oor al die •gemeentes.
29Wie is swak,
en ek is nie ook swak nie?
Wie kom tot struikeling,
en ek brand nie van ontsteltenis nie?
30 As daar dan gespog moet word, sal ek oor my swakhede spog. 31 God, die Vader van die Here Jesus, wat lofwaardig is tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 32 In Damaskus het koning Aretas se etnarg die stad Damaskus bewaak om my te arresteer. 33Deur 'n venster in die stadsmuur is ek toe in 'n mandjie laat sak, en het ek aan sy hande ontkom.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid