1 Timoteus 3

3
1Dié uitspraak is betroubaar.
Vereistes vir opsieners en diakens
As iemand na 'n amp as opsiener streef, begeer hy 'n goeie taak. 2 'n Opsiener moet onberispelik wees: 'n man met net een vrou, beheersd, verstandig, goed gemanierd, gasvry, en in staat om onderrig te gee. 3Hy moet nie 'n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. 4Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou.
5Maar as iemand sy eie huishouding nie behoorlik kan bestuur nie, hoe sal hy na die •gemeente van God kan omsien?
6Hy moet nie 'n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie. 7Boonop moet hy 'n goeie reputasie onder die mense buite die gemeente hê, sodat hy nie in die skande en in die Duiwel se strik beland nie.
8Net so moet diakens hulle waardig gedra, nie uit twee monde praat nie, hulle nie oorgee aan baie wyn nie, nie inhalig wees nie, 9terwyl hulle met 'n skoon gewete aan die geheimenis van die geloof vashou. 10Maar laat hulle eers getoets word, en as hulle onberispelik bevind word, laat hulle dan as diakens optree. 11Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles. 12Diakens moet net een vrou hê, en hulle kinders en hulle eie huishoudings goed bestuur. 13Want wie hulle dienswerk as diakens goed doen, verwerf groot aansien vir hulleself, en verkry groot vrymoedigheid deur die geloof in •Christus Jesus.
Voorskrifte aan Timoteus
14Hierdie dinge skryf ek vir jou, in die hoop om binnekort na jou toe te kom. 15Maar as ek vertraag word, moet jy weet hoe jy jou moet gedra in die huishouding van God: dit is die •kerk van die lewende God, 'n pilaar en 'n fondament van die waarheid.
16En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot:
Hy is geopenbaar
in 'n menslike liggaam,
regverdig bewys deur die Gees,
gesien deur die engele,
verkondig onder die nasies,
geglo in die wêreld,
opgeneem in heerlikheid.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid