1 Samuel 4:12-22

1 Samuel 4:12-22 AFR20

'n Man van Benjamin het van die gevegslinies af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy kop. Toe hy daar aankom, sit Eli juis op 'n stoel langs die pad, in afwagting op nuus, want sy hart was aan die bewe oor die ark van God. Toe die man die stad binnegaan om die nuus bekend te maak, het die hele stad om hulp geroep. Eli het die uitroepe gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie geraas?” Die man het toe gou die nuus vir Eli gaan vertel. Eli was agt-en-negentig jaar oud en sy oë was al star, sodat hy nie meer kon sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek is die een wat van die gevegslinies af gekom het. Ek het pas van die gevegslinies af gevlug.” Eli vra toe: “Wat het dan gebeur, my seun?” Die boodskapper het geantwoord en gesê: “Israel het voor die Filistyne gevlug. Daar was nie net 'n groot slagting onder die manskappe nie, maar ook u twee seuns, Hofni en Pinehas, het gesneuwel, en die ark van God is weggevoer.” Die oomblik toe hy die ark van God noem, val Eli reg agteroor van sy stoel af langs die stadspoort. Sy nek het gebreek en hy het gesterf, want hy was 'n ou man en hy was swaar. Hy het Israel veertig jaar lank gerig. Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op die punt om geboorte te gee. Toe sy die tyding kry oor die ark van God wat weggevoer is, en haar skoonvader en man wat dood is, het sy ineengekrimp en geboorte gegee, want haar geboortepyne het haar oorweldig. Toe sy besig was om te sterf, het die vroue wat haar bystaan, gesê: “Moenie bang wees nie, want jy het 'n seun in die wêreld gebring!” Sy het egter nie daarop geantwoord of dit ter harte geneem nie. Sy het die seuntjie Ikabod genoem en, met verwysing na die wegvoering van die ark van God, en na haar skoonvader en man, gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel.” Sy het gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel,” omdat die ark van God weggevoer is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 4:12-22

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid