1 SAMUEL 4:12-22

1 SAMUEL 4:12-22 Bybel vir almal (ABA)

'n Man van die Benjamin-stam het gehardloop van die plek waar hulle geveg het en hy het dieselfde dag in Silo aangekom. Hy het sy klere geskeur en hy het grond op sy kop gegooi. Toe hy in Silo kom, het Eli op 'n stoel gesit en hy het gewag dat iemand moet kom, want hy was bekommerd oor die kis van God. Toe die man in die stad kom en vertel wat gebeur het, het al die mense in die stad geskree. Eli het gehoor hulle skree, en hy het gevra: “Hoekom skree die mense?” Toe kom die man vinnig na Eli toe om vir hom te vertel wat gebeur het. Eli was 98 jaar oud, en hy kon nie meer sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die plek waar hulle geveg het, ek het vandag daar weggevlug.” Eli het gevra: “My seun, wat het gebeur?” Toe sê die boodskapper: “Die Israeliete het gevlug vir die Filistyne. Baie manne het gesterf. Jou twee seuns Hofni en Pinehas is ook dood. En die Filistyne het die kis van God gevat.” Dadelik toe Eli hoor wat die man sê oor die kis van God, het hy agteroor van sy stoel afgeval daar by die poort. Hy het sy nek gebreek en hy het gesterf. Hy was oud en swaar. Eli was 40 jaar lank die leier van Israel. Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger, en die tyd was naby dat sy haar baba moes kry. Toe sy hoor dat die Filistyne die kis van God gevat het en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy pyn begin kry en krom gebuig, en haar kind is gebore. Sy kon dit nie keer nie. Sy het begin sterf, en die vroue by haar het gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, jy het 'n seun gekry.” Sy het nie geantwoord nie, en dit het gelyk of sy hulle nie hoor nie. Sy het gesê die seun se naam moet Ikabod wees, want die Here is weg uit die land Israel. Sy het dit gesê omdat die Filistyne die kis van God gevat het en omdat haar skoonpa en haar man dood is. Sy het gesê: “Ja, die Here is weg uit die land Israel, want die Filistyne het die kis van God gevat.”

1 SAMUEL 4:12-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het 'n Benjaminiet van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy hoof. Terwyl hy aankom, sit Eli juis en uitkyk op 'n stoel aan die kant van die pad, want hy was besorg oor die ark van God. En die man het gekom om dit in die stad mee te deel, en die hele stad het geskreeu. Toe Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: Wat is dit vir 'n rumoerige geluid? En die man het gou gekom en dit aan Eli meegedeel. (Eli was agt-en-negentig jaar oud, en sy oë het styf gestaan, sodat hy nie kon sien nie.) En die man het vir Eli gesê: Dit is ek wat van die slagveld gekom het; ja, ek het vandag van die slagveld gevlug. En hy vra: Wat het daar gebeur, my seun? En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook 'n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem. Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig. En sy skoondogter, die vrou van Pínehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval. En terwyl sy op sterwe lê, sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het 'n seun gebaar; maar sy het nie geantwoord en dit nie ter harte geneem nie, maar die seuntjie Íkabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel — met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man. En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.

1 SAMUEL 4:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Benjaminiet het van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur, en daar was grond op sy kop. Terwyl hy aankom, het Eli juis langs die pad op sy stoel gesit en wag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Die man het gekom en die tyding aan die dorp bekend gemaak. Die hele dorp het begin kerm en kla. Eli het die gekerm gehoor en gesê: “Wat skreeu die mense so?” Die man het gou vir Eli kom vertel. Eli was toe ag en negentig jaar. Sy oë was star, en hy kon nie meer goed sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die slagveld af. Ja, ek het vandag van die slagveld af gevlug.” En Eli vra: “My seun, wat het gebeur?” Die boodskapper antwoord toe: “Israel het gevlug voor die Filistyne, die volk het swaar verliese gely, selfs u twee seuns Hofni en Pinehas is dood; en die ark van God is ook gevat.” Toe hy praat van die ark van God, het Eli daar by die poort van sy stoel af agteroor geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was oud en swaar. Hy was veertig jaar 'n leier in Israel. Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en sy was op haar laaste. Toe sy die tyding kry dat die ark gevat is en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy vooroor inmekaargetrek en 'n kind in die wêreld gebring, want die geboortepyne het haar oorval. Toe sy wou sterf, het die vroue wat by haar gestaan het, gesê: “Moet jou nie bekommer nie, want jy het 'n seuntjie.” Sy het egter nie geantwoord of op hulle ag geslaan nie, maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is weggevat uit Israel.” Dit het geslaan op die wegvat van die ark van God en op haar skoonpa en haar man. “Ja,” het sy gesê, “die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”

1 SAMUEL 4:12-22 Die Boodskap (DB)

’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind. Die man sê toe vir hom: “Ek kom nou net van die oorlog af. Ek het vandag daar weggehardloop.” Daarop vra Eli vir hom: “Wat het gebeur, my kind?” “Die Israeliete het vir die Filistyne gevlug,” sê die boodskapper. “Daar is baie van ons mense dood; u twee seuns Hofni en Pinehas ook, en die Filistyne het die ark van God gevat.” Toe hy sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die dorp se ingang reg agteroor van die stoel afgeval. Hy het sy nek gebreek en is dood, want hy was oud en swaar. Eli het Israel 40 jaar lank gelei. Eli se skoondogter, Pinehas se vrou, het ’n baba verwag en die tyd van die geboorte was naby. Toe sy hoor dat die Filistyne die ark van God gevat het, en dat haar skoonpa en haar man dood is, het die geboortepyne skielik begin. Sy het haar knieë opgetrek en gekraam. Die vroue wat haar gehelp het, het gesê: “Moenie moed verloor nie; jy het ’n seuntjie!” Maar sy was besig om dood te gaan; sy het nie geantwoord of met die vroue gepraat nie. Net voor sy dood is, het sy die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Israel se eer is weg.” Sy het bedoel die ark van God wat weg was en die dood van haar skoonpa en haar man. Sy het weer gesê: “Israel se eer is weg, want die ark van God is weggevat.”

1 SAMUEL 4:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Iemand uit die stam van Benjamin het dié dag van die slagveld af na Silo toe gehardloop. Hy het sy klere geskeur en daar was as op sy kop as teken van rou. Eli het langs die pad gesit en wag op nuus van die veldslag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Toe die boodskapper daar aankom en vertel wat gebeur het, het die mense in die dorp hulle ontsteltenis uitgeskreeu. “Waaroor is al die geraas en oproer?” het Eli gevra. Die boodskapper het na Eli toe gehardloop. Eli was 98 jaar oud en byna blind. Hy sê vir Eli: “Ek kom so pas van die oorlogsfront af.” “Wat het gebeur?” vra Eli. “Israel is verslaan,” antwoord die boodskapper, “en baie Israeliete het gesneuwel. U twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesneuwel en die ark van God is buitgemaak.” Toe die boodskapper sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die poort agteroor van sy stoel af geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was baie oud en oorgewig. Hy het Israel 40 jaar lank gelei. Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op haar laaste. Toe sy hoor dat die ark van God geneem is en dat haar man en skoonpa dood is, het geboortepyne haar oorval. Terwyl sy geboorte gee, het sy gesterf. Voordat sy dood is, het die vroedvroue haar probeer opbeur: “Moenie bang wees nie,” sê hulle. “Jy het ’n seuntjie!” Sy het haar egter nie aan hulle gesteur nie, maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is uit Israel weggeneem.” Daarmee het sy verwys na die ark van God wat gebuit is en omdat haar man en skoonpa dood was. Sy het gesê: “Die eer is weggeneem uit Israel, want die ark van God is buitgemaak.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid