Daarna het Elkana na Rama gegaan, na sy huis toe. Die seuntjie was egter in diens van die HERE onder toesig van Eli, die priester.
Eli se seuns was deugniete. Hulle het die HERE nie geken nie. Die reg van die priesters teenoor die volk was so dat, wanneer enigiemand 'n offer slag, die priester se handlanger met 'n drietandvurk in sy hand kom terwyl die vleis kook. Dan steek hy dit in die kastrol, pot, kookpot of erdepot. Alles wat die vurk optrek, neem die priester daarmee weg. So het hulle gewoonlik gemaak met die hele Israel wat daar in Silo aangekom het.
Maar selfs voordat die vet verbrand is, het die priester se handlanger gekom en vir die man wat slag, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai. Hy sal nie gekookte vleis van jou aanvaar nie, net rou vleis.” As die man vir hom sê, “Laat hulle net eers die vet heeltemal verbrand, dan kan jy vir jou vat wat jy graag wil hê,” dan antwoord hy: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld!”
Hierdie sonde van die jong manne was baie groot in die oë van die HERE, want die manne het die offer aan die HERE met minagting behandel.
Samuel het voor die HERE diens gedoen – 'n seuntjie wat 'n efod van linne aangehad het en 'n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die HERE vir jou uit hierdie vrou 'n nageslag vestig in die plek van hom wat van die HERE gevra is. ” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan.
Omdat die HERE na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee.
Maar die seuntjie Samuel het by die HERE grootgeword.
Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die HERE te versprei, is nie goed nie. As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die HERE is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die HERE wou hulle om die lewe bring. Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die HERE as by die mense.