1 SAMUEL 2:11-26
1 SAMUEL 2:11-26 Bybel vir almal (ABA)
Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar sy seun Samuel het by die priester Eli gebly om vir die Here te werk. Die seuns van Eli was slegte mense. Hulle het nie gelewe soos die Here wou hê nie. Al die mense wat kom offer het, het altyd ook vir die priesters vleis gegee. Wanneer iemand klaar 'n ete-offer gebring het, dan het hy die vleis gaargemaak. Dan het die priester se slaaf gekom en hy het 'n drietand-vurk in sy hand gehad. Die slaaf het dan die vurk in die pot of die bak of die pan of die skottel gesteek. Alles wat aan die vurk vasgesit het, kon die priester vir homself vat. Die priesters het dit gedoen met al die Israeliete wat daar in Silo gekom het. Maar die priester se slaaf het partymaal gekom voordat die priesters die vet op die altaar aan die brand gesteek het. Die slaaf het dan vir die man gesê: “Jy moet vleis gee vir die priester om te braai. Hy wil nie gaar vleis hê nie, hy wil rou vleis hê.” En as die man dan vir die slaaf sê: “Wag 'n bietjie, hulle moet eers die vet aan die brand steek, daarna kan jy vat wat jy wil hê,” dan sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nóú gee. As jy dit nie doen nie, dan sal ek dit self vat.” Die Here het gesien dat die seuns van Eli 'n baie groot sonde doen, want hulle het gemaak of die offer van die Here nie belangrik is nie. Samuel het in die tempel gewerk en hy het 'n linne- skouer-kleed gedra. Sy ma het elke jaar 'n klein oorkleed vir hom gemaak en sy het dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man kom offer het. Eli het Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Jy en jou vrou het hierdie kind vir die Here geleen. Ek bid dat die Here vir julle nog kinders sal gee in sy plek.” Daarna het Elkana en sy huisgesin teruggegaan na sy huis. En die Here was toe baie goed vir Hanna. Sy het weer swanger geword en sy het nog drie seuns en twee dogters gekry. Maar die seun Samuel het in die tempel grootgeword. Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle. Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie. Wanneer 'n mens sonde doen teen 'n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer 'n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?” Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf. Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel.
1 SAMUEL 2:11-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarna het Élkana na sy huis, na Rama, gegaan, terwyl die seun by die priester Eli die HERE bly dien het. MAAR die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie. Die handelwyse van die priesters teenoor die volk was só: As iemand 'n offer slag, dan kom die dienaar van die priester, net soos die vleis kook, met die drietandvurk in sy hand, en steek in die kastrol of in die pot of in die pan of in die skottel: alles wat die vurk optrek, neem die priester vir homself. So het hulle met al die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het. Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem. As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer — dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag. Maar Samuel het as seun gedien voor die aangesig van die HERE, omgord met 'n linneskouerkleed. En sy moeder was gewoond om vir hom 'n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring. Dan seën Eli Élkana en sy vrou en sê: Mag die HERE jou 'n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die HERE afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe. En die HERE het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die HERE. Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms, dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor? Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as 'n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring. Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.
1 SAMUEL 2:11-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Elkana na sy huis toe gegaan in Rama, terwyl die seun Samuel die Here bly dien het onder toesig van die priester Eli. Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie. Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook, steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het. Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.” As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.” Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor. Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra. Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou 'n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.” Daarna is hulle weer huis toe. Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword. Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?” Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak. Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.
1 SAMUEL 2:11-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Elkana na Rama gegaan, na sy huis toe. Die seuntjie was egter in diens van die HERE onder toesig van Eli, die priester. Eli se seuns was deugniete. Hulle het die HERE nie geken nie. Die reg van die priesters teenoor die volk was so dat, wanneer enigiemand 'n offer slag, die priester se handlanger met 'n drietandvurk in sy hand kom terwyl die vleis kook. Dan steek hy dit in die kastrol, pot, kookpot of erdepot. Alles wat die vurk optrek, neem die priester daarmee weg. So het hulle gewoonlik gemaak met die hele Israel wat daar in Silo aangekom het. Maar selfs voordat die vet verbrand is, het die priester se handlanger gekom en vir die man wat slag, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai. Hy sal nie gekookte vleis van jou aanvaar nie, net rou vleis.” As die man vir hom sê, “Laat hulle net eers die vet heeltemal verbrand, dan kan jy vir jou vat wat jy graag wil hê,” dan antwoord hy: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld!” Hierdie sonde van die jong manne was baie groot in die oë van die HERE, want die manne het die offer aan die HERE met minagting behandel. Samuel het voor die HERE diens gedoen – 'n seuntjie wat 'n efod van linne aangehad het en 'n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die HERE vir jou uit hierdie vrou 'n nageslag vestig in die plek van hom wat van die HERE gevra is. ” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan. Omdat die HERE na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. Maar die seuntjie Samuel het by die HERE grootgeword. Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die HERE te versprei, is nie goed nie. As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die HERE is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die HERE wou hulle om die lewe bring. Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die HERE as by die mense.
1 SAMUEL 2:11-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Elkana het na Rama gegaan na sy huis. En die seuntjie het die HERE gedien voor die priester Eli. En die seuns van Eli was seuns van Belial; hulle het die HERE nie geken nie. En die gewoonte van die priesters by die volk was dat wanneer iemand 'n offer gebring het, die dienaar van die priester gekom het, terwyl die vlees sied, met 'n vleishoek van drie tande in sy hand; En hy het dit in die pan of ketel of ketel of pot geslaan; alles wat die vleeshoek opgebring het, het die priester vir hom geneem. So het hulle in Silo gedoen met al die Israeliete wat daar gekom het. Ook voordat hulle die vet verbrand het, het die dienaar van die priester gekom o men die man wat geoffer het, gesê: Gee vir die priester vleis om te braai; want hy sal nie deurweekte vlees van jou hê nie, maar rou. En as iemand vir hom sê: Laat hulle nie versuim om die vet op die oomblik te verbrand nie, en neem dan soveel as wat jou siel begeer; dan sou hy hom antwoord: Nee; maar jy moet dit nou vir my gee; en so nie, sal ek dit met geweld neem. Daarom was die sonde van die jongmanne baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het 'n afsku gehad van die offer van die HERE. Maar Samuel het as kind gedien voor die aangesig van die HERE, omgord met 'n linneskouerkleed. Verder het sy o men vir hom 'n rok gemaak o men van jaar tot jaar vir hom gebring as sy saam met haar man opgekom het om die jaarlikse offer te bring. En Eli het Elkana en sy vrou geseën en gesê: Mag die HERE jou nageslag van hierdie vrou gee vir die lening wat aan die HERE geleen is. En hulle het na hul eie huis gegaan. En die HERE het Hanna besoek, sodat o menade geword het en drie seuns en twee dogters gebaar het. En die kind Samuel het grootgeword voor die aangesig van die HERE. En Eli was baie oud en het gehoor alles wat sy seuns aan die hele Israel gedoen het; en hoe hulle saam met die vroue gelê het wat by die ingang van die tent van samekoms vergader het. En Hy sê vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge? Want ek hoor van julle slegte handelinge deur hierdie hele volk. Nee, my seuns; want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie: julle laat die volk van die HERE oortree. As die een teen die ander sondig, moet die regter hom oordeel; maar as iemand teen die HERE sondig, wie sal vir hom smeek? Maar hulle het nie na die stem van o menader geluister nie, want die HERE sou hulle doodmaak. En die kind Samuel het gegroei en was in guns by die HERE sowel as by die mense.
1 SAMUEL 2:11-26 Die Boodskap (DB)
Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar die seuntjie, Samuel, het agtergebly en onder toesig van Eli in die tempel gehelp. Eli se seuns was twee niksnutte; hulle het geen respek vir die Here gehad nie. Priesters het ’n sekere reg gehad wanneer iemand geoffer het. Terwyl die offervleis gekook word, kom die leerlingpriester met ’n drietandvurk en steek dit in die bak of pan of kookpot of kleipot. Alles wat aan die vurk vassit, is die priester s’n. So het hulle met al die Israeliete gemaak wat in Silo kom offer het. Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.” As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!” Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here. Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra. Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan. Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword. Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor. Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie. As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak. Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou.
1 SAMUEL 2:11-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Elkana en Hanna sonder Samuel teruggegaan na Rama toe. Die seun het die HERE onder toesig van die priester Eli gedien. Die seuns van Eli was egter slegte mense sonder enige respek vir die HERE. Die gebruik van die priesters was dat wanneer iemand ’n offer bring, die dienaar van die priesters met ’n drietandvurk kom sodra die vleis kook en dit in die pot of bak steek. Alles wat aan die vurk vassit, het die priesters dan vir hulle geneem. Dit was die gebruik vir al die Israeliete wat na Silo toe gekom het om te offer. Maar die dienaar van Eli se seuns het gekom nog voordat die vet gebrand is, en het vir die man wat offer, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai! Hy sal nie gekookte vleis aanvaar nie, net rou vleis.” As die een wat offer dan sê: “Vat soveel as wat jy wil hê, maar die vet moet eers gebrand word,” het die dienaar geantwoord: “Nee, gee dit nou vir my, anders vat ek dit met geweld.” Die sondes van hierdie jong manne was vir die HERE baie ernstig, want daarmee het hulle die offer van die HERE met minagting behandel. Samuel het egter die HERE gedien. Hoewel hy nog maar ’n kind was, het hy ’n priesterlike linneskouerkleed gedra. Elke jaar het sy ma vir hom ’n manteltjie gemaak en dit saamgebring wanneer sy saam met haar man gekom het om te offer. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die HERE jou uit hierdie vrou nog kinders gee in die plek van hierdie een wat sy van die HERE afgesmeek het.” Daarna het hulle huis toe gegaan. Die HERE het Hom oor Hanna ontferm. Sy het weer swanger geword en nog drie seuns en twee dogters in die wêreld gebring. Intussen het Samuel voor die HERE grootgeword. Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik. Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge? My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die HERE oortree. Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die HERE het alreeds besluit dat hulle moet sterf. Soos die jong Samuel groter geword het, het hy ook al meer die guns van die HERE en die mense gewen.