1 Petrus 2:1-8

1 Petrus 2:1-8 AFR20

Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”. Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Petrus 2:1-8