1 Konings 16

16
1Die woord van die Here teen Baesa het toe tot Jehu, seun van Ganani, gekom: 2“Omdat Ek jou uit die stof opgehef en jou aangestel het as leier oor my volk Israel, maar jy toe die pad van Jerobeam gevolg en my volk Israel laat sondig het deurdat hulle My getart het met hulle sondes, 3 gaan Ek Baesa en sy koningshuis binnekort wegvee. Ek sal jou huis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat. 4 As iemand van Baesa in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van hom in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.”
5Die verdere geskiedenis van Baesa, wat hy gedoen het en sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? 6Baesa het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het in sy plek koning geword. 7Daarby was die woord van die Here by monde van die profeet Jehu, seun van Ganani, teen Baesa en sy huis gerig oor al die kwaad wat hy gedoen het in die oë van die Here deur Hom te tart met sy handewerk, sodat hy soos die huis van Jerobeam geword het, en ook omdat hy die familie van Jerobeam afgemaai het.
Ela koning van Israel
8In die ses-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Ela, seun van Baesa, koning geword oor Israel in Tirsa, en twee jaar lank regeer. 9Sy dienaar Simri, •aanvoerder van die helfte van die strydwamag, het egter 'n komplot teen hom gesmee. Terwyl Ela in Tirsa, in die huis van Arsa, hoof van die hofhouding in Tirsa, besig was om hom dronk te drink, 10het Simri binnegegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Hy het in sy plek koning geword. 11Toe hy koning geword het, pas nadat hy die troon bestyg het, het hy die hele huis van Baesa afgemaai. Hy het vir hom nie 'n enkele mansmens laat oorbly nie, ook nie sy bloedwrekers of sy vertroueling nie. 12Simri het die hele huis van Baesa uitgeroei, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy tot Baesa gerig het by monde van Jehu, die profeet, 13en wel oor al die sondes van Baesa en die sondes van Ela, sy seun, wat hulle gedoen het en waarmee hulle Israel laat sondig het deur die Here, die God van Israel te tart met hulle nietige afgode. 14Die verdere geskiedenis van Ela, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie?
Simri koning van Israel
15In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Simri koning geword in Tirsa, en sewe dae lank regeer. Die manskappe was besig om Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort, te beleër. 16Toe die manskappe wat laer getrek het, die berig kry, “Simri het 'n komplot gesmee en hy het selfs die koning neergevel”, het die hele Israel op daardie dag in die kamp vir Omri, die aanvoerder van die leër, koning gemaak oor Israel. 17Daarna het Omri, en die hele Israel saam met hom, van Gibbeton af opgetrek en Tirsa beleër. 18Toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy dadelik na die vesting van die koninklike paleis gegaan en die paleis bo hom aan die brand gesteek en gesterf. 19Dit was oor sy sondes wat hy gepleeg het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here toe hy die pad van Jerobeam gevolg en volhard het met sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig. 20Die verdere geskiedenis van Simri en die komplot wat hy gesmee het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie?
Omri koning van Israel
21Die manskappe van Israel is toe in twee verdeel. Die een helfte van die manskappe het Tibni, seun van Ginat, ondersteun om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri ondersteun. 22Maar die manskappe wat Omri ondersteun het, het die oorhand gekry oor die manskappe wat Tibni, seun van Ginat, ondersteun het. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.
23In die een-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Omri koning geword oor Israel, en twaalf jaar lank regeer. In Tirsa was hy ses jaar lank koning. 24Toe het hy die berg Samaria gekoop vir twee kikkar silwer by Semer. Hy het op die berg gebou, en die stad wat hy gebou het, Samaria genoem, na die naam van Semer, die eienaar van die berg.
25Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het meer kwaad aangerig as al sy voorgangers. 26Hy het die pad van Jerobeam, seun van Nebat, in alle opsigte gevolg en volhard met sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, deur die Here, die God van Israel, te tart met hulle nietige afgode. 27Die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? 28Omri het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Agab het in sy plek koning geword.
Agab koning van Israel
29Agab, seun van Omri, het koning geword oor Israel in die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Agab, seun van Omri, het twee-en-twintig jaar lank as koning geheers oor Israel in Samaria. 30Agab, seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer nog as al sy voorgangers. 31 En asof dit maar sommer 'n kleinigheid was om met die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, te volhard, neem hy toe as vrou Isebel, dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs. Hy het Baäl gaan dien en in aanbidding voor hom gebuig. 32 Hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die tempel van Baäl wat hy in Samaria gebou het. 33Agab het ook 'n asjera gemaak. So het Agab meer gedoen om die Here, die God van Israel, uit te tart as al die konings van Israel wat voor hom daar was.
34In sy regeringstyd het Giël, 'n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid