1 Konings 11:1-11

1 Konings 11:1-11 AFR20

Koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad. Saam met die dogter van die farao was daar Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vroue, vroue uit die nasies van wie die HERE vir die Israeliete gesê het: “Julle mag met hulle nie omgaan nie, en hulle mag met julle nie omgaan nie. Hulle sal beslis julle harte verlei om hulle gode te volg.” Salomo was juis aan hierdie gode verknog. Hy het sewehonderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue gehad. Sy vroue het sy hart verlei. Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die HERE sy God, soos wat die hart van sy vader Dawid was nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die verfoeilike god van die Ammoniete, gevolg. Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het nie die HERE met volharding gevolg soos sy vader Dawid nie. Salomo het toe 'n •offerhoogte vir die verfoeilike god van Moab gebou op die berg wat oos van Jerusalem lê, en ook vir •Moleg, die verfoeilike god van die Ammoniete. So het hy gemaak vir al sy uitlandse vroue, wat gewoonlik reukwerk gebrand en offers geslag het vir hulle gode. Die HERE was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, en hom juis oor hierdie saak beveel het om nie ander gode te volg nie. Hy het egter nie nagekom wat die HERE beveel het nie. Toe sê die HERE vir Salomo: “Omdat jy hiervan bewus was, en jy nie my verbond en my vaste voorskrifte wat Ek jou beveel het, nagekom het nie, sal Ek beslis die koningskap van jou afskeur en dit vir jou dienaar gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid