1 KONINGS 11:1-11

1 KONINGS 11:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Koning Salomo was lief vir baie vroue van ander lande. Hy het getrou met die dogter van die farao en ook met Moabitiese vroue, Ammonitiese vroue, Edomitiese vroue, Sidoniese vroue en Hetitiese vroue. Die Here het vir die Israeliete gesê: “Julle moenie by daardie volke kom nie, en hulle moenie by julle kom nie, want hulle sal julle verlei om ander gode te dien.” Dit was die vroue vir wie Salomo lief was. Hy het getrou met 700 vroue wat dogters van konings was en met 300 byvroue, en sy vroue het hom verlei. Toe Salomo oud geword het, het sy vroue hom verlei om ander gode te dien. Hy het toe nie meer sy God die Here met sy hele hart gedien soos sy pa Dawid gedoen het nie. Salomo het begin om vir Astarte te aanbid. Astarte was die godin van die Sidoniërs. Salomo het ook vir Milkom, die afgod van die Ammoniete, aanbid. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het nie aangehou om die Here te dien soos sy pa Dawid nie. Hy het op die berg naby Jerusalem 'n offer-plek gebou vir Kemos, die afgod van die Moabiete, en vir Molek, die afgod van die Ammoniete. Hy het dit gedoen vir al sy vroue wat van ander lande gekom het, sodat hulle wierook kon brand en kon offer vir al hulle gode. Die Here het kwaad geword vir Salomo, want Salomo het opgehou om die Here te dien, Salomo het nie meer die God van Israel gedien nie, die God wat twee maal aan hom verskyn het. Die Here het vir Salomo gesê hy moenie ander gode begin dien nie, maar Salomo het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Die Here het vir Salomo gesê: “Jy het verkeerd gedoen, jy is ongehoorsaam aan my verbond en jy het nie gedoen wat Ek in my wette vir jou gesê het nie. Daarom sal Ek jou land wegvat en Ek sal dit gee vir een van jou amptenare. Ek sal dit doen, dit is seker.

1 KONINGS 11:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese — uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan — Salomo het hulle met liefde aangehang. En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het. En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie. En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop. So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie. Toe het Salomo 'n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon. En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode. Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie. Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.

1 KONINGS 11:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.” Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak. Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het. Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie. Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien. Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid, sy pa, nie. Salomo het selfs op die berg teenoor Jerusalem 'n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Dieselfde ding het hy gedoen vir al sy uitlandse vrouens, sodat hulle wierook kon brand en offers kon bring vir hulle gode. Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie. Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee.

1 KONINGS 11:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad. Saam met die dogter van die farao was daar Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese en Hetitiese vroue, vroue uit die nasies van wie die HERE vir die Israeliete gesê het: “Julle mag met hulle nie omgaan nie, en hulle mag met julle nie omgaan nie. Hulle sal beslis julle harte verlei om hulle gode te volg.” Salomo was juis aan hierdie gode verknog. Hy het sewehonderd vroue van koninklike stand en driehonderd byvroue gehad. Sy vroue het sy hart verlei. Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die HERE sy God, soos wat die hart van sy vader Dawid was nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die verfoeilike god van die Ammoniete, gevolg. Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het nie die HERE met volharding gevolg soos sy vader Dawid nie. Salomo het toe 'n •offerhoogte vir die verfoeilike god van Moab gebou op die berg wat oos van Jerusalem lê, en ook vir •Moleg, die verfoeilike god van die Ammoniete. So het hy gemaak vir al sy uitlandse vroue, wat gewoonlik reukwerk gebrand en offers geslag het vir hulle gode. Die HERE was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, en hom juis oor hierdie saak beveel het om nie ander gode te volg nie. Hy het egter nie nagekom wat die HERE beveel het nie. Toe sê die HERE vir Salomo: “Omdat jy hiervan bewus was, en jy nie my verbond en my vaste voorskrifte wat Ek jou beveel het, nagekom het nie, sal Ek beslis die koningskap van jou afskeur en dit vir jou dienaar gee.

1 KONINGS 11:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar koning Salomo het baie vreemde vroue liefgehad, saam met die dogter van Farao, vroue van die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete; Van die nasies waaroor die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie by hulle ingaan nie, en hulle mag nie na julle ingaan nie; En hy het sewe honderd vroue, prinsesse en drie honderd byvroue gehad, en sy vroue het sy hart afgewend. Want toe Salomo oud was, het sy vroue sy hart weggedraai agter ander gode aan; en sy hart was nie volkome met die HERE sy God soos die hart van sy vader Dawid nie. Want Salomo het agter Astarte aan, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die gruwel van die Ammoniete, aangegaan. En Salomo het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie ten volle agter die HERE aan geloop soos sy vader Dawid nie. Toe het Salomo 'n hoogte gebou vir Kamos, die gruwel van Moab, op die heuwel wat voor Jerusalem lê, en vir Molog, die gruwel van die kinders van Ammon. En net so het hy gedoen vir al sy vreemde vroue wat reukwerk laat opgaan het en aan hulle gode geoffer het. En die HERE was toornig op Salomo, omdat sy hart bekeer was van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, En hy het hom oor hierdie saak beveel om nie agter ander gode aan te loop nie, maar hy het nie gehou wat die HERE beveel het nie. Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit met jou gedoen is en jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie gehou het nie, sal Ek sekerlik die koningskap van jou afskeur en dit aan jou kneg gee.

1 KONINGS 11:1-11 Die Boodskap (DB)

Salomo was lief vir buitelandse vroue en hy het baie van hulle gehad. Behalwe die dogter van die Egiptiese koning was hy ook met vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en die land van die Hetiete getroud. Salomo het vir hulle lief geraak en met hulle getrou al was die Here daarteen gekant. Hy het Israel altyd gewaarsku om nie met dié vroue te trou nie. Hulle kon Israel baie maklik van die Here af wegrokkel en hulle ander gode laat aanbid. Salomo het met 700 prinsesse van ander lande getrou en dan het hy ook nog 300 byvroue gehad. Hulle het sy hart van die Here af laat wegdraai. Teen die tyd dat hy ’n ou man was, het hy lankal reeds ’n spul vreemde gode aanbid. Salomo het toe nie meer die Here so liefgehad soos sy pa, Dawid, nie. Hy het selfs vir Astarte, die godin van Sidon, en vir Milkom, die aaklige god van Ammon, aanbid. Salomo het teen die Here gesondig. Hy was nie so getrou aan die Here soos sy pa, Dawid, nie. Op die berg oos van Jerusalem het hy ’n plek gebou waar Kemos, die verskriklike god van Moab, en Milkom, daardie aaklige god van Ammon, aanbid kon word. Hy het ook plekke gebou waar sy buitelandse vroue vir hulle gode offers kon bring en wierook kon brand. Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie. Salomo was glad nie meer in die Here geïnteresseerd nie; hy het sy hart vir die ander gode gegee. Die Here was seergemaak en kwaad vir Salomo. Hy het toe vir hom gesê: “Jy het doelbewus jou verhouding met My verbreek. Jy wil nie meer my gebooie gehoorsaam nie. Ek gaan daarom jou hele koninkryk van jou af wegneem en dit vir een van jou amptenare gee.

1 KONINGS 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad. Die HERE het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak. Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei. Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die HERE sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid. Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die HERE. Hy het nie meer die HERE met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie. Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete. Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring. Die HERE was baie ontevrede met Salomo omdat hy die HERE, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het. Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die HERE geluister nie. Die HERE sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid