Sagaria 9

9
Die Here sal die ander volke straf
1Die Here het met Sagaria gepraat.
Die Here praat kwaai met die mense van die land Gadrak en die mense van die stad Damaskus. Die Here sien nie net wat die stamme van Israel doen nie, Hy sien wat al die mense doen. 2Hy kyk ook na die land Hamat langs Damaskus, en na die stede Tirus en Sidon. Hy doen dit omdat daardie mense dink hulle is baie slim.
3Die mense van Tirus het sterk mure om hulle stad gebou en hulle het baie ryk geword. Hulle het baie silwer en goud bymekaargemaak, so baie soos die stof en die modder in die strate. 4Die Here sal nou al die goed vat wat die mense van die stad het. Hy sal die skepe van die stad Tirus verwoes.
5Die mense van die stede Askelon en Gasa sal sien wat gebeur met Tirus. Hulle sal bang word en groot skrik. Die mense van die stad Ekron sal ook skrik, want hulle sal sien dat niks en niemand hulle kan help nie. Die stad Gasa sal nie meer 'n koning hê nie, en daar sal nie meer mense in Askelon woon nie. 6In die stad Asdod sal nou ander mense woon. Die Here sê: “Ek sal alles wegvat wat die Filistyne hoogmoedig gemaak het. 7Hulle sal nie meer ete-offers vol bloed vir hulle afgode bring nie. Die Filistyne wat nog lewe, sal ook aan ons God behoort. Hulle sal soos familie wees vir die mense van Juda. Dit sal met die mense van Ekron gaan soos met die Jebusiete, wat ook saam met die mense van Juda gewoon het. 8Die Here sê Hy sal sy tempel beskerm. Daar sal nie meer ander volke in die stad Jerusalem kom nie, niemand sal die mense van Jerusalem verdruk nie, want die Here self sorg vir hulle.”
Daar sal 'n koning kom
9Die Here sê:
“Mense van Jerusalem,
julle moet baie bly wees en juig,
want dit is julle koning
wat nou na julle toe kom.
Hy is regverdig,
en Ek help hom altyd.
Hy is nie 'n belangrike man nie,
en hy ry op 'n jong donkie.
10Ek sal die oorlogkarre verwoes
en die perde doodmaak.
Ek sal die pyl en boog stukkend breek,
die mense van Efraim
en Jerusalem maak oorlog daarmee.
Dan sal die koning vrede maak
met die ander volke.
Hy sal oor hulle regeer,
van die een see
tot by die ander see,
van die Eufraat-rivier en verder,
oor die hele aarde.”
Die Here sal sy volk red
11Die Here sê ook: “My volk, Ek het 'n verbond gemaak met julle en bloed op julle gegooi. Daarom sal Ek julle mense nou terugstuur. Ander volke het hulle gevang en na ander lande gevat en hulle in putte gegooi wat leeg is. Ek sal hulle nou terugstuur na julle toe. 12Ek sal vir hulle sê: ‘Julle wat aangehou hoop het dat Ek julle sal help, julle kan nou uitkom, julle kan terugkom na julle stad wat die sterk mure het.’ Nog meer, Ek belowe vandag dat Ek vir my volk twee maal meer sal gee as wat hulle gehad het. 13Ja, my volk moet terugkom, want hulle moet my wapens wees teen die Grieke. Die mense van Juda en Jerusalem sal my pyl en boog en my swaard wees, Ek sal hulle gebruik om oorlog te maak.”
14Die Here sal bokant sy volk verskyn en Hy sal sy pyle skiet soos weerlig. Die Here sal die ramshoring blaas en Hy sal kom in 'n stormwind uit die suide. 15Die Here wat oor alles regeer, sal sy volk beskerm.
Hy sal sy slingervel gebruik en hy sal sy vyande oorwin. Die klippe uit sy slingervel sal vol bloed word, so vol bloed soos die bakke by die altaar en soos die hoeke van die altaar. Die vyande sal die klippe hoor aankom en dit sal wees soos wanneer wyn borrel. 16Die Here is die God van sy volk, en hulle behoort aan Hom. Hy sal daardie dag kom om sy volk te red, en hulle sal in sy land woon. Hulle sal lyk soos mooi blink edelstene in 'n koning se kroon. 17Dit sal goed gaan in die land, die land sal mooi wees. Daar sal baie koring en wyn wees, en dit sal die jongmans en die meisies sterk en gesond maak.

Tans Gekies:

Sagaria 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid