Romeine 11

11
God sal doen wat Hy belowe het
1Iemand sal miskien vra: “Het God sy volk gelos?” Nee, nooit nie. Julle moet onthou, ek is ook 'n Israeliet, ek is van die nageslag van Abraham. Ek behoort aan die Benjamin-stam. 2God het nie sy volk gelos nie. Hy het hulle gekies om aan Hom te behoort. Hy het hulle gekies voordat Hy alles gemaak het. Julle moet onthou wat die Ou Testament oor Elia sê. Elia het by God gekla oor die Israeliete. Elia het gesê: 3“ Here, die Israeliete het u profete doodgemaak, en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”
4Maar God het vir Elia gesê: “ Ek het vir My 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het en vir Baäl aanbid het nie.”
5God het nou ook mense laat oorbly. Dit is die mense wat Hy gekies het om aan Hom te behoort omdat Hy baie goed wil wees vir hulle. 6God het hulle gekies omdat Hy baie goed wil wees vir hulle, nie omdat hulle goeie dinge gedoen het nie. As God hulle gekies het omdat hulle goeie dinge gedoen het, dan is dit nie regtig genade nie.
7Dit beteken: Die Israeliete wou hê God moet hulle vryspreek, maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het party mense gekies en Hy het hulle vrygespreek, maar Hy het die ander mense hardkoppig gemaak. 8Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
God het hulle mense gemaak
wat niks kan doen nie,
Hy het vir hulle oë gegee
wat nie sien nie
en ore wat nie hoor nie.
Dit is vandag nog dieselfde.
9En Dawid sê in die Ou Testament:
U moet hulle straf
daar by hulle offer-etes,
U moet hulle laat val
soos voëls in vangnette val.
Hulle moet val en seerkry,
U moet hulle straf.
10U moet hulle blind maak
sodat hulle nie kan sien nie.
U moet elkeen se rug
krom maak
sodat hulle nooit weer kan
loop nie.
11Die Israeliete het sonde gedoen toe hulle nie in Christus geglo het nie. Nou vra ek: Is hulle heeltemal verlore? Nee, nooit nie! Die Israeliete het sonde gedoen, maar omdat hulle sonde gedoen het, het God die heidene gered. Hy het dit gedoen sodat die Israeliete jaloers kan word. 12Ja, die Israeliete het sonde gedoen, en daarom het die ander mense in die wêreld al die goeie dinge gekry wat God wil gee. Die Israeliete het al die goeie dinge verloor, en die heidene het al die goeie dinge gewen. Nou moet julle dit weet: Wanneer God al die Israeliete red wat Hy wil red, dan sal die heidene nog baie meer goeie dinge kry.
13Ek sê vir julle, vir julle wat heidene is: Ek is 'n apostel en God het vir my die werk gegee om na die heidene toe te gaan. Ek doen hierdie werk baie goed 14en ek hoop die Israeliete word jaloers wanneer hulle sien dat God die heidene red. Dan kan God party van die Israeliete ook red. 15Toe God die Israeliete gelos het, het Hy die sonde weggeneem van ander mense in die wêreld. Nou is alles reg tussen die ander mense en God. Julle moet dit weet: Wanneer God die Israeliete weer aanneem om aan Hom te behoort, dan sal dit wees soos wanneer Hy dooie mense weer laat lewe. 16Wanneer iemand 'n stukkie van die deeg offer, dan behoort die hele stuk deeg aan God. En wanneer die wortel van 'n boom aan God behoort, dan behoort die takke van die boom ook aan God.
17God het die Israeliete gelos en Hy red julle wat heidene is. Dit is soos wanneer iemand takke van 'n mak olyfboom afbreek en dan takke van 'n wilde olyfboom inent op die mak olyfboom. Dan groei daardie wilde takke aan die mak olyfboom en hulle kry ook van die boom se wortel al die kos wat hulle nodig het. 18Julle wat heidene is, is soos die wilde takke, en die Israeliete is soos die mak takke. Die wilde takke mag nie dink hulle is beter as die mak takke nie, want die wilde takke lewe nie self nie, hulle kry hulle kos van die boom se wortel. 19Julle wat heidene is, sê miskien: “God het die mak takke afgebreek sodat Hy ons op die boom kon inent.” 20Ja, dit is waar. Maar julle moet onthou dat God die mak takke, die Israeliete, afgebreek het omdat hulle nie in Christus glo nie. Julle wat heidene is, het vasgegroei aan die boom omdat julle in Christus glo. Daarom moet julle nie hoogmoedig wees nie. Nee, julle moet vir God respekteer en Hom dien. 21Julle moet onthou God was nie jammer vir die mak takke nie en Hy sal miskien ook nie jammer wees vir julle nie.
22Julle moet weet God is baie goed, maar Hy is ook kwaai. Hy is kwaai met die mense wat nie in Christus glo nie en wat verlore gaan. God is baie goed vir julle, maar dan moet julle aanhou lewe soos mense wat weet dat God baie goed is vir hulle. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle ook afkap van die boom soos Hy die mak takke afgekap het. 23As die Israeliete in Christus glo, dan sal God hulle weer aanneem om aan Hom te behoort. God kan dit doen. 24Julle wat heidene is, is soos takke van 'n wilde olyfboom. Wilde takke groei nie maklik op 'n mak olyfboom nie, maar God het vir julle afgekap en Hy het julle ingeënt op 'n mak olyfboom. Daarom sal dit vir God baie makliker wees om die Israeliete weer aan te neem, want hulle is soos die takke wat maklik weer vasgroei aan die boom van waar dit kom.
25Vriende, ek wil hê julle moet weet wat God voorheen besluit het en wat Hy nou vir ons gesê het. Julle moenie dink julle weet alles nie. Party Israeliete is nou hardkoppig en hulle wil nie in Christus glo nie. Dit sal so wees totdat God al die heidene gered het wat Hy wil red. 26Dit is hoe God al die Israeliete sal red. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is:
Die Redder sal uit Sion kom,
Hy sal vir Jakob laat ophou
om verkeerde dinge te doen.
27Ek maak 'n verbond met hulle,
Ek vergewe hulle sondes.
28Die Israeliete het nie die goeie boodskap geglo nie. Daarom is hulle God se vyande en daarom is God goed vir julle wat heidene is. Maar God het die Israeliete gekies en Hy is lief vir hulle, want Hy het 'n verbond gemaak met hulle voorvaders. 29Wanneer God vir iemand genade gee, dan gee Hy dit vir altyd. Wanneer Hy mense kies, dan kies Hy hulle vir altyd. 30Voorheen was julle heidene, julle was nie gehoorsaam aan God nie. Die Israeliete was ook nie gehoorsaam nie, en nou is God vir júlle jammer. 31Nou sal dieselfde gebeur: Die Israeliete was nie gehoorsaam aan God nie, maar God sal weer goed wees vir hulle, want God was goed vir júlle. 32Almal, Israeliete en heidene, was ongehoorsaam, en God het hulle ongehoorsaam laat bly, want Hy wou jammer wees vir hulle almal.
33Die wysheid van God, alles wat Hy weet, alles wat aan God behoort, is meer as wat ons kan verstaan. Ons kan nie weet wat God besluit nie, ons kan nie uitvind wat Hy wil doen nie.
34 Wie mag vir die Here sê
wat Hy moet dink?
Wie mag vir Hom sê
wat die regte dinge is
wat Hy moet doen?
35 Of wie het eers vir die Here
iets gegee
sodat die Here dit dan weer
vir hom moes teruggee?
36Die Here het alles en almal gemaak, alles en almal kom van Hom, en alles en almal moet Hom dien. Daarom moet ons die Here altyd prys. Amen.

Tans Gekies:

Romeine 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid