Markus 11

11
Jesus ry op 'n donkie in Jerusalem in
(Ook Matt 21:1-11; Luk 19:28-38; Joh 12:12-14)
1Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by twee dorpies op die Olyf-berg: Betfage en Betanië. Toe hulle daar kom, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hiernatoe. 3Wanneer iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik, maar Hy sal hom gou weer hiernatoe terugstuur.”
4Die twee dissipels het gegaan en hulle het buite in die straat 'n jong donkie gekry wat vasgemaak was by 'n deur. Hulle het die donkie losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, vra toe vir hulle: “Wat doen julle? Hoekom maak julle die donkie los?”
6Die dissipels het die mense geantwoord soos Jesus gesê het, en die mense het hulle nie gekeer nie. 7Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe en hulle gooi van hulle klere oor die donkie. Jesus het op die donkie gaan sit. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander mense het takke afgekap van die bome in die veld en hulle het dit in die pad gegooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê:
“ Prys God!
Prys die Man wat kom!
Die Here het Hom gestuur
om sy werk te kom doen!
10Prys Hom!
Hy sal nou begin
om Koning te wees oor almal,
soos ons voorvader Dawid!
Prys God in die hoogste hemel!”
11Jesus het in Jerusalem na die tempel-gronde gegaan. Hy het daar rondgekyk na alles. Daarna het Jesus en sy twaalf dissipels na Betanië gegaan, want dit was al laat.
Jesus vervloek 'n vyeboom
(Ook Matt 21:18-19)
12Die volgende dag het Jesus en sy dissipels uit Betanië gegaan. Jesus het honger geword 13en Hy het 'n vyeboom gesien wat vol blare was. Die boom was ver en Hy het daarnatoe gegaan om te sien of daar iets aan die boom was om te eet. Toe Hy daar kom, sien Hy daar is niks, net blare. Dit was nie die regte tyd vir vye nie. 14Jesus sê toe vir die boom: “Niemand sal weer 'n vy van jou eet nie, nooit nie.”
Sy dissipels het gehoor wat Hy gesê het.
Jesus jaag die verkopers uit die tempel
(Ook Matt 21:12-13; Luk 19:45-48; Joh 2:13-16)
15Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gegaan. Hy het na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop en te koop. Jesus het hulle uitgejaag. Hy het die tafels omgegooi van die mense wat die geld omgeruil het en ook die stoele van die mense wat duiwe verkoop het. 16Hy het gesê niemand mag iets dra oor die tempel-gronde nie. 17Jesus het begin om vir die mense te leer en Hy het gesê in die Ou Testament is geskryf:
“God het gesê: Die mense sal sê
my tempel is 'n plek
waar al die volke mag bid.
Maar julle het dit verander,
dit is nou 'n plek
waar diewe bymekaarkom.”
18Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het gehoor wat gebeur het. Hulle wou 'n plan maak om Jesus dood te maak. Maar hulle was bang vir Hom, want die mense het baie gehou van wat Jesus vir hulle geleer het. 19Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels weer uit die stad gegaan.
Die vyeboom het doodgegaan
(Ook Matt 21:20-22; 6:14)
20Jesus en sy dissipels het vroeg in die oggend by die vyeboom verbygeloop. Hulle sien toe die hele boom het doodgegaan, ook sy wortels. 21Petrus het onthou wat Jesus vir die boom gesê het en hy het vir Jesus gesê: “Meneer, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is heeltemal dood.”
22Jesus het geantwoord: “Julle moet in God glo! 23Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en gooi jouself in die see,’ dan sal dit gebeur. Maar hy moenie twyfel nie. Hy moet glo dat dit sal gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Wanneer julle bid en julle vra iets, dan moet julle glo dat julle dit ontvang het, en dan sal julle dit kry. 25En wanneer julle staan om te bid, en julle is kwaad vir iemand, dan moet julle hom vergewe. Dan sal julle Vader wat in die hemel is, ook julle sondes vergewe.”
Die mense wil weet wie het gesê Jesus mag hierdie dinge doen
(Ook Matt 21:23-27; Luk 20:1-8)
26 27Jesus en sy dissipels het weer in Jerusalem aangekom. Jesus het op die tempel-gronde rondgeloop. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het na Hom toe gekom. 28Hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?”
29Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle een vraag vra. As julle My antwoord, dan sal Ek vir julle sê wie gesê het Ek mag hierdie dinge doen. 30Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit mense? Antwoord My.”
31Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’ 32Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie.”
Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers was bang vir die klomp mense, want almal het gedink dat Johannes regtig 'n profeet was. 33Daarom het die skrifgeleerdes vir Jesus gesê: “Ons weet nie.”
En Jesus het vir hulle gesê: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”

Tans Gekies:

Markus 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid