Levitikus 13

13
Velsiektes
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Daar is miskien op iemand se vel 'n plek wat begin swel, of daar is 'n skurwe plek of 'n vlek op sy vel. As dit lyk of die seerplek miskien melaats is, dan moet sy mense hom bring na die priester Aäron of na een van Aäron se seuns, een van die priesters. 3Die priester moet kyk na die seerplek. As die hare op die seerplek wit geword het en as dit lyk of die seerplek dieper is as die vel, dan is die seerplek melaats. Nadat die priester na die persoon gekyk het, moet hy sê dat die persoon onrein is.
4“Partymaal is die vlek op die vel wit en dit lyk of dit nie dieper is as die vel nie. As die hare op die vlek nie wit geword het nie, dan moet die priester die persoon sewe dae lank toesluit. 5Die priester moet op die sewende dag weer na die persoon kyk, en as hy sien dat die seerplek op die vel nie groter geword het nie, dan moet hy die persoon nóg sewe dae toesluit. 6Die priester moet ná sewe dae weer na die persoon kyk, en as die seerplek dof is en dit het nie groter geword nie, dan moet die priester sê dit is 'n ander velsiekte, die persoon is rein. Die persoon moet sy klere was, dan sal hy rein wees.
7“Maar as die skurwe plek groter geword het nadat die persoon by die priester was en as die priester gesê het dat hy rein is, dan moet die persoon weer na die priester toe kom. 8Die priester moet kyk, en as die skurwe plek op die vel groter geword het, dan is die persoon melaats, en die priester moet dan sê die persoon is onrein.
9“Wanneer iemand 'n seerplek het wat miskien melaats is, dan moet sy mense hom na die priester toe bring. 10Die priester moet na die seerplek kyk. As die seerplek op die vel wit is en dit is geswel, en die hare op die seerplek is wit, en as die seerplek rou is, 11dan is die seerplek melaats. Die priester moet dan sê dat die persoon onrein is. Hy moet hom nie toesluit nie, want hy weet die persoon is onrein.
12“Maar as dit vir die priester lyk of die siekte op die persoon se hele liggaam is, van sy kop tot by sy tone, 13dan moet die priester goed kyk, en as hy sien dat die vel op die persoon se hele liggaam wit geword het, dan moet hy sê dat die persoon rein is. 14Maar wanneer die persoon 'n rou seerplek het, dan is hy onrein. 15Wanneer die priester die rou seerplek sien, dan moet hy sê dat die persoon onrein is. Die rou seerplek wys dat dit melaats is. 16Wanneer die rou seerplek weer wit word, dan moet die persoon weer na die priester toe gaan, 17en as die priester sien dat die seerplek weer wit is, dan moet die priester sê dat die persoon rein is. 18Iemand het miskien 'n seerplek gehad wat gesond geword het, 19en dan begin dit weer swel en dit is wit waar die seerplek was, of die seerplek word miskien pienk. Dan moet die persoon dit vir die priester gaan wys. 20As die priester sien dat die seerplek dieper is as die vel en dat die hare daarop wit geword het, dan moet die priester sê dat die persoon onrein is. Die seerplek het melaats geword. 21Maar as die priester sien dat die hare op die plek nie wit is nie en dat die seerplek nie dieper is as die vel nie en dat dit dof geword het, dan moet die priester die persoon sewe dae lank toesluit. 22As die seerplek groter geword het, dan moet die priester sê die persoon is onrein, hy het 'n velsiekte. 23Maar as die vlek nie groter geword het nie, dan is dit net die plek waar die seerplek voorheen was, en die priester moet sê dat die persoon rein is.
24“Wanneer iemand 'n brandplek op sy vel het, en dit word 'n pienk seerplek, 25dan moet die priester na die seerplek kyk. As die hare op die seerplek wit geword het, en as die seerplek lyk of dit dieper is as die vel, dan het die brandplek melaats geword. Die priester moet sê die persoon is onrein, want hy is melaats. 26As die priester na die seerplek kyk, en die hare op die plek is nie wit nie, en die seerplek is nie dieper as die vel nie en dit is nie meer rooi nie, dan moet die priester die persoon sewe dae lank toesluit. 27Die priester moet op die sewende dag weer na die seerplek kyk. As die seerplek groter geword het, dan moet die priester sê dat die persoon onrein is, hy is melaats. 28As die seerplek nie groter geword het nie en dit is nie meer rooi nie, dan is dit die merk wat oorgebly het waar die brandplek was. Die priester moet sê die persoon is rein.
29“'n Persoon het miskien 'n seerplek aan sy kop of in sy baard. 30Die priester moet kyk na die seerplek, en as die seerplek dieper is as die vel, en daar is geel, fyn haartjies op die seerplek, dan moet die priester sê die persoon is onrein. 31Maar as die priester na die seerplek kyk, en dit lyk of die seerplek nie dieper is as die vel nie, maar daar is nie swart hare in die seerplek nie, dan moet die priester die persoon wat die seerplek het, sewe dae lank toesluit. 32Die priester moet op die sewende dag weer kyk. As die seerplek nie groter geword het nie, en daar is nie geel hare in die seerplek nie, en die seerplek is nie dieper as die vel nie, 33dan moet die persoon sy hare en sy baard afskeer, maar hy moenie die hare in die seerplek afskeer nie. Die priester moet die persoon dan weer sewe dae lank toesluit. 34As die priester op die sewende dag weer na die seerplek kyk, en die seerplek het nie groter geword nie en die seerplek is nie dieper as die vel nie, dan moet die priester sê die persoon is rein. Die persoon moet sy klere was. Hy is rein. 35Wanneer die seerplek groter word nadat die priester gesê het die persoon is rein, 36dan moet die priester weer na hom kyk. As die seerplek groter geword het, dan moet die priester nie ook kyk of die hare geel is nie. Hy weet dan dat die persoon onrein is. 37Maar as die priester sien die seerplek het nie groter geword nie en daar het swart hare gegroei op die seerplek, dan is dit gesond. Die persoon is rein, en die priester moet sê die persoon is rein.
38“As daar wit vlekke op 'n persoon se vel is, 39dan moet die priester daarna kyk. As hy sien die wit vlekke is dof, dan is dit nie 'n ernstige velsiekte nie, die persoon is rein.
40“Wanneer 'n persoon se hare uitval en hy word kaalkop, dan is hy nog rein, 41en as die hare op sy voorkop uitval en hy word bles, dan is hy nog rein. 42Maar as daar op die kaal kopvel 'n seerplek is wat pienk is, dan is dit miskien melaats. 43Die priester moet daarna kyk, en as hy sien die seerplek op die kaal kopvel is geswel en pienk soos wanneer die vel melaats is, 44dan is die persoon melaats. Daar is 'n seerplek op sy kop, en hy is onrein. Die priester moet sê die persoon is onrein.
45“Iemand wat melaats is, moet sy klere skeur en hy moet sy hare los laat hang. Hy moet sy snor en sy baard toe hou en hy moet skree: ‘Ek is onrein! Ek is onrein!’ 46Hy is onrein so lank soos hy die seerplek het. Hy moet alleen woon, buite die kamp.”
Kolle op klere of materiaal of op iets wat gemaak is van vel
47“Daar kom miskien kolle op wolklere of op linne-klere, 48of op materiaal, of op iets wat gemaak is van vel. 49As daardie kolle groen of rooi is, dan is dit skimmel. Die priester moet daarna kyk. 50As die priester daarna gekyk het, dan moet hy die klere of materiaal of ding van vel sewe dae lank toesluit. 51As hy op die sewende dag sien die kolle het meer geword, dan is dit slegte skimmel, en die klere of materiaal of die ding van vel is onrein. 52Die priester moet die klere of materiaal of die ding van vel verbrand, want dit is slegte skimmel. 53Maar as die priester sien die kolle daarop het nie meer geword nie, 54dan moet die priester sê die persoon moet sy klere of materiaal of ding van vel was, en hy moet dit weer sewe dae lank toesluit. 55As die priester dan sien dat die kolle nie meer geword het nie maar dat dit nog dieselfde lyk, dan is die klere of materiaal of die ding van vel onrein, en hy moet sê dat die persoon dit moet verbrand. Dit maak nie saak of die kolle buite of binne op die klere of materiaal of die ding van vel was nie. 56Maar as die persoon dit gewas het, en die priester sien dat die kolle dof geword het, dan moet die priester die stuk waarop die kolle is, uitskeur. 57As daar dan weer kolle kom op die klere of die materiaal of op die ding van vel, dan moet die persoon dit verbrand. 58As die persoon dit gewas het en daar is nie meer kolle op nie, dan moet die persoon dit weer was, dan is dit rein. 59Dit is wat moet gebeur wanneer daar kolle is op klere van wol of linne of op materiaal of op iets van wat van vel gemaak is. Die priester moet dan sê of dit rein of onrein is.”

Tans Gekies:

Levitikus 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid