Levitikus 11

11
Die Israeliete mag net rein diere en rein voëls eet
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Julle moet vir die Israeliete sê: Julle mag net party diere eet, julle mag nie van al die diere op die aarde eet nie. 3Julle mag enige dier eet wat gesplete hoewe het en wat herkou. 4-6Daar is ook diere wat herkou maar wat nie gesplete hoewe het nie. Julle mag hulle nie eet nie, hulle is onrein vir julle. Dit is kamele, dassies en hase. 7Varke het gesplete hoewe, maar hulle herkou nie. Hulle is onrein vir julle. 8Julle mag nie hierdie diere se vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie, hulle is onrein vir julle.
9“Julle mag eet van die diere in die water, in die see en in die riviere as die diere vinne en skubbe het. 10Maar as die diere wat in die see en in die riviere is, nie vinne en skubbe het nie, dan mag julle niks eet van hulle nie, niks van al die baie klein diertjies wat in die water lewe nie. 11Julle mag nooit van hulle eet nie. Julle mag nie hulle vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie. 12Julle mag nie iets eet wat nie vinne en skubbe het nie.
13-19“Julle mag nie van hierdie voëls eet nie, julle moenie aan hulle raak nie: arende, aasvoëls, vis-arende, valke, kraaie, volstruise, seemeeue, uile, pelikane, visvangers, duikers, ooievaars, reiers en hoep-hoepe. Julle mag ook nie vlermuise eet nie, 20ook nie die klein diertjies wat vlerke en pote het nie. 21Maar julle mag eet van die klein diertjies wat vlerke en pote het, as die diertjies kan spring. 22Hierdie diertjies wat julle mag eet, is al die soorte sprinkane. 23Julle mag nie raak aan die ander diertjies wat vlerke en pote het nie. 24Hulle sal julle onrein laat word. Enige iemand wat raak aan die dooie liggaam van so 'n diertjie, sal onrein wees tot die aand. 25Iemand wat die dooie liggaam van so 'n diertjie optel, moet sy klere was. Hy sal onrein wees tot die aand.
26“'n Dier wat nie herkou nie en wat hoewe het wat nie heeltemal gesplete is nie, sal julle onrein laat word. Iemand wat aan hierdie diere raak, sal onrein wees. 27'n Dier wat nie kloue het nie, is onrein vir julle, en iemand wat raak aan die dooie liggaam van so 'n dier, sal onrein wees tot die aand. 28Iemand wat die dooie liggaam van so 'n dier optel, moet sy klere was, en hy sal onrein wees tot die aand. Hierdie diere is onrein vir julle.
29-30“Hierdie klein diertjies wat op die aarde kruip, is vir julle onrein: molle, muise, akkedisse, geitjies, likkewane en verkleurmannetjies. 31Hulle is die onrein klein diertjies. Iemand wat aan een van hierdie diertjies se dooie liggaam raak, sal onrein wees tot die aand. 32Wanneer een van hierdie diertjies se dooie liggaam op iets val, dan sal dit onrein wees. Dit is miskien iets van hout of lap of vel of growwe materiaal, of enige iets wat mense gebruik. Julle moet dit in water druk, en dit sal onrein wees tot die aand. 33Wanneer so 'n diertjie in 'n kleipot val, dan sal alles in die pot onrein wees, en julle moet die pot breek. 34As daar water in die kleipot was en die water kom op kos, dan sal die kos onrein wees. As daar iets in die kruik was wat 'n mens kan drink, dan sal dit onrein wees 35As die diertjies se dooie liggame op enige iets val, dan sal dit alles onrein wees. As dit op 'n oond of op 'n kookplek val, dan moet julle die oond of kookplek stukkend slaan. Dit is onrein en dit sal vir julle onrein bly. 36As 'n dooie diertjie in 'n fontein of 'n watergat val en iemand raak aan die dooie diertjie, dan sal die persoon onrein wees, maar die water sal rein wees. 37As 'n dooie diertjie op saad val wat iemand wil saai, dan bly die saad rein. 38Maar as iemand water op die saad gooi en 'n dooie diertjie val daarop, dan sal die saad onrein wees vir julle.
39“As een van die diere wat julle mag eet, doodgaan, en iemand raak miskien aan die dooie dier, dan sal hy onrein wees tot die aand. 40Mense wat vleis van die dooie dier eet of wat die dooie dier optel, moet hulle klere was en hulle sal onrein wees tot die aand.
41“Julle mag nie raak aan die baie klein diertjies op die grond nie, julle mag hulle nie eet nie. 42Julle mag nie raak aan die diertjies wat op hulle pens seil of wat op pote loop of wat baie pote het nie. Julle mag nie raak aan een van al hierdie baie diertjies nie, julle mag hulle nie eet nie. 43Julle mag nie aan een van die diertjies raak nie, want dan sal julle onrein word, en dan mag niemand anders aan julle raak nie. 44Ja, Ek is julle God die Here. Julle moet julleself aan My wy en julle moet gewyd wees, want Ek is heilig. Nie een van die baie klein diertjies op die grond mag vir julle onrein laat word nie. 45Ja, Ek is die Here wat vir julle uit die land Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Julle moet aan My gewy wees, want Ek is heilig. 46Dit is die wette oor diere en voëls en oor alles wat in die water lewe en oor al die baie klein diertjies op die grond. 47Julle moet weet watter dinge is rein en watter dinge is onrein. Julle moet ook weet watter diere mag julle eet en watter diere mag julle nie eet nie. Almal is nie dieselfde nie.”

Tans Gekies:

Levitikus 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid