Job 31:1-23
Job 31:1-23 ABA
Job het gesê: “Ek het vir myself gesê ek mag nooit na 'n jongmeisie kyk en haar begeer nie. Maar wat het God aan my gedoen? Sal die Almagtige in die hoë hemel iets vir my doen? Dit moet sleg gaan met mense wat verkeerd doen. Mense wat slegte dinge doen, moet swaarkry. God weet hoe ek gelewe het, Hy weet alles wat ek gedoen het. Ek was nie vals en skynheilig nie. Wanneer God my toets, dan sal Hy weet dat ek heeltemal reg gelewe het. Ek het nie weggedraai van die regte pad nie, ek het nie iets gevat wat ek graag wou hê nie, my hande is skoon. As my hande nie skoon is nie, dan moet ander mense die koring eet wat ek gesaai het, hulle moet die plante uittrek wat ek geplant het. Ek het nie iemand anders se vrou begeer en gewag om skelm by haar te gaan slaap nie. As ek dit gedoen het, dan moet my vrou vir 'n ander man kos gaarmaak en dan moet hý seks hê met haar, want dan het ek iets gedoen wat baie verkeerd is, en dan moet die Regter my straf. Dit sal vir my wees soos 'n vuur wat brand tot in die onderwêreld, 'n vuur wat alles verbrand wat ek het. Ek het altyd reg gedoen aan 'n slaaf of slavin wanneer een van hulle my beskuldig het. As ek nie reg gedoen het aan hulle nie, wat sal ek doen wanneer God my oordeel? Wat sal ek kan antwoord wanneer Hy vra wat ek gedoen het? Niks. Hy het my gemaak en Hy het ook my slawe gemaak. Dieselfde God het ons gemaak. Wanneer arm mense iets wou hê, dan het ek nie nee gesê nie, en ek het nie 'n weduwee honger laat bly nie. Ek het nie my kos alleen geëet nie, ek het vir weeskinders ook van my kos gegee. Ja, ek was altyd soos 'n pa vir weeskinders en ek het weduwees altyd gehelp. Wanneer ek gesien het dat 'n arm mens nie klere het nie en dat hy koud moet slaap, dan het ek vir hom klere gegee van my eie skape se wol, en hy het vir my dankie gesê. Ek het nie my vuis vir 'n weeskind gewys nie, ook nie wanneer ek gesien het dat die ander mense in die poort sal sê dat dit reg is nie. As ek dit gedoen het, dan moet iemand my arms breek en uit my skouers ruk. Ja, ek was bang dat God my sal straf, ek sou nie voor Hom, die Koning, kon staan nie.

