Job 31:1-23
Job 31:1-23 AFR20
“ Ek het 'n verbond met my oë gesluit – hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie? Watter erfdeel is daar van God daar bo, watter erfenis van die Almagtige in die hoogtes? Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener, en rampe vir wie onreg pleeg nie? Sien Hy dan nie my paaie nie; en al my treë, tel Hy dit nie? As ek vals sou optree, en my voete hulle na bedrog haas – laat God my dan weeg op 'n onvervalste skaal, sodat Hy van my onberispelike optrede kan kennis neem. As my voetstappe sou afwyk van die pad, as my hart my oë gevolg het, en daar aan my handpalms 'n smet gekleef het, laat ek dan maar saai en laat 'n ander dit eet, laat wat vir my uitspruit, ontwortel word. As my hart hom laat verlei het by 'n vrou, ek by die deur van my medemens op loer was, laat my vrou dan vir iemand anders meel maal; laat ander mans oor haar buig. Want dit is 'n skanddaad, dit is strafbare sondeskuld; ja, dit is 'n vuur wat tot in die onderwêreld verteer; dit sou my hele oes ontwortel. As ek die regte van my slaaf en slavin misken het in hulle geskil met my, wat sal ek dan doen as God opstaan? En as Hy my tot verantwoording roep, wat sal ek antwoord? Het Hy, wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Een ons nie in die baarmoeder voorberei nie? As ek armes dit wat hulle begeer, ontsê het, die oë van 'n weduwee laat verdof het, my stukkie brood alleen geëet het, en as vaderlose kinders nie daarvan geëet het nie – van my jeug af het hulle immers by my grootgeword soos by 'n vader, en van die moederskoot af het ek weduwees gelei – as ek 'n sukkelaar sou sien sonder 'n bokleed, of 'n behoeftige sonder enige bedekking, as sy lyf nie dankbaar sou wees teenoor my, hy hom nie met die skeersel van my jongskaap sou warm maak nie, as ek my hand teen 'n vaderlose kind gelig het, omdat ek in die stadspoort gemerk het dat ek ondersteuning geniet, kan my bo-arm maar uit die skouer val, my voorarm maar uit die elmboog gebreek word. Want die teenspoed wat van God kom, is vir my 'n verskrikking; teen sy majesteit is ek nie opgewasse nie.

