JOB 31:1-23

JOB 31:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Job het gesê: “Ek het vir myself gesê ek mag nooit na 'n jongmeisie kyk en haar begeer nie. Maar wat het God aan my gedoen? Sal die Almagtige in die hoë hemel iets vir my doen? Dit moet sleg gaan met mense wat verkeerd doen. Mense wat slegte dinge doen, moet swaarkry. God weet hoe ek gelewe het, Hy weet alles wat ek gedoen het. Ek was nie vals en skynheilig nie. Wanneer God my toets, dan sal Hy weet dat ek heeltemal reg gelewe het. Ek het nie weggedraai van die regte pad nie, ek het nie iets gevat wat ek graag wou hê nie, my hande is skoon. As my hande nie skoon is nie, dan moet ander mense die koring eet wat ek gesaai het, hulle moet die plante uittrek wat ek geplant het. Ek het nie iemand anders se vrou begeer en gewag om skelm by haar te gaan slaap nie. As ek dit gedoen het, dan moet my vrou vir 'n ander man kos gaarmaak en dan moet hý seks hê met haar, want dan het ek iets gedoen wat baie verkeerd is, en dan moet die Regter my straf. Dit sal vir my wees soos 'n vuur wat brand tot in die onderwêreld, 'n vuur wat alles verbrand wat ek het. Ek het altyd reg gedoen aan 'n slaaf of slavin wanneer een van hulle my beskuldig het. As ek nie reg gedoen het aan hulle nie, wat sal ek doen wanneer God my oordeel? Wat sal ek kan antwoord wanneer Hy vra wat ek gedoen het? Niks. Hy het my gemaak en Hy het ook my slawe gemaak. Dieselfde God het ons gemaak. Wanneer arm mense iets wou hê, dan het ek nie nee gesê nie, en ek het nie 'n weduwee honger laat bly nie. Ek het nie my kos alleen geëet nie, ek het vir weeskinders ook van my kos gegee. Ja, ek was altyd soos 'n pa vir weeskinders en ek het weduwees altyd gehelp. Wanneer ek gesien het dat 'n arm mens nie klere het nie en dat hy koud moet slaap, dan het ek vir hom klere gegee van my eie skape se wol, en hy het vir my dankie gesê. Ek het nie my vuis vir 'n weeskind gewys nie, ook nie wanneer ek gesien het dat die ander mense in die poort sal sê dat dit reg is nie. As ek dit gedoen het, dan moet iemand my arms breek en uit my skouers ruk. Ja, ek was bang dat God my sal straf, ek sou nie voor Hom, die Koning, kon staan nie.

JOB 31:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EK het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou? Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes — is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie? Sien Hý nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie? As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: laat Hy my dan weeg op 'n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet! As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande 'n vlek gekleef het — laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word. As my hart verlok was oor 'n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste — laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. Want dit is 'n skandelike daad, en dit is 'n strafbare misdaad. Ja, dit is 'n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel. As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle 'n geskil met my gehad het — wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen? Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie? As ek die armes 'n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet; (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by 'n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!) as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie; as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie; as ek my hand teen 'n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het — laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word. Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.

JOB 31:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Ek het my plegtig verbind om nie na 'n meisie te kyk en haar te begeer nie. Wat kom 'n mens toe van God in die hemel, wat gee die Almagtige daar van bo af? Vernietiging tref immers die bóósdoener, 'n ongeluk dié wat onreg doen. God hou my paaie dop en tel elke tree wat ek gee. “As ek my sou opgehou het met valsheid, agter bedrog sou aangehardloop het, laat God my dan weeg op 'n betroubare skaal dat Hy kan weet dat ek onskuldig is. As ek die spoor byster geraak het, my deur my begeerte laat lei het en my hande besoedel het, laat ander mense eet wat ek gesaai het, of laat my gesaaides uitgeruk word. As ek my deur 'n ander se vrou laat verlei het en gretig geloer het na my buurman se deur, laat mý vrou dan vir 'n ander man koring maal, laat ander by haar slaap. As ek so iets gedoen het, sou dit 'n skande gewees het, 'n misdaad vir regters om te straf. Dit sou 'n vuur gewees het wat alles vernietig en al my besittings verteer. As ek nie reg gedoen het aan my slawe en slavinne toe hulle 'n grief teen my gehad het nie, wat sou ek kon doen as God van my rekenskap eis, hoe sou ek my kon verweer as Hy my tot verantwoording roep? Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Hy ons nie almal gevorm nie? Het ek armes geweier wat hulle gevra het en weduwees van honger laat vergaan? Het ek my stukkie kos alleen geëet en die weeskind nie ook daarvan laat eet nie? Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind 'n pa, van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg. Het ek 'n arme sonder klere sien rondswerwe en hom nie iets gegee om aan te trek nie? Het hulle my nie juis geprys omdat my skape se wol hulle warm gehou het nie? Het ek my hand teen 'n weeskind opgelig omdat ek kon reken op die partydigheid van die regters? As ek aan iets hiervan skuldig is, mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af, mag my arm afgebreek word. Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie.

JOB 31:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Ek het 'n verbond met my oë gesluit – hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie? Watter erfdeel is daar van God daar bo, watter erfenis van die Almagtige in die hoogtes? Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener, en rampe vir wie onreg pleeg nie? Sien Hy dan nie my paaie nie; en al my treë, tel Hy dit nie? As ek vals sou optree, en my voete hulle na bedrog haas – laat God my dan weeg op 'n onvervalste skaal, sodat Hy van my onberispelike optrede kan kennis neem. As my voetstappe sou afwyk van die pad, as my hart my oë gevolg het, en daar aan my handpalms 'n smet gekleef het, laat ek dan maar saai en laat 'n ander dit eet, laat wat vir my uitspruit, ontwortel word. As my hart hom laat verlei het by 'n vrou, ek by die deur van my medemens op loer was, laat my vrou dan vir iemand anders meel maal; laat ander mans oor haar buig. Want dit is 'n skanddaad, dit is strafbare sondeskuld; ja, dit is 'n vuur wat tot in die onderwêreld verteer; dit sou my hele oes ontwortel. As ek die regte van my slaaf en slavin misken het in hulle geskil met my, wat sal ek dan doen as God opstaan? En as Hy my tot verantwoording roep, wat sal ek antwoord? Het Hy, wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Een ons nie in die baarmoeder voorberei nie? As ek armes dit wat hulle begeer, ontsê het, die oë van 'n weduwee laat verdof het, my stukkie brood alleen geëet het, en as vaderlose kinders nie daarvan geëet het nie – van my jeug af het hulle immers by my grootgeword soos by 'n vader, en van die moederskoot af het ek weduwees gelei – as ek 'n sukkelaar sou sien sonder 'n bokleed, of 'n behoeftige sonder enige bedekking, as sy lyf nie dankbaar sou wees teenoor my, hy hom nie met die skeersel van my jongskaap sou warm maak nie, as ek my hand teen 'n vaderlose kind gelig het, omdat ek in die stadspoort gemerk het dat ek ondersteuning geniet, kan my bo-arm maar uit die skouer val, my voorarm maar uit die elmboog gebreek word. Want die teenspoed wat van God kom, is vir my 'n verskrikking; teen sy majesteit is ek nie opgewasse nie.

JOB 31:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek het 'n verbond met my oë gesluit; waarom sou ek dan aan 'n diensmeisie dink? Want watter deel van God is daar van bo? en watter erfdeel van die Almagtige uit die hoogte? Is vernietiging nie vir die goddelose nie? en 'n vreemde straf vir die werkers van ongeregtigheid? Sien hy nie my weë en tel hy nie al my voetstappe nie? As ek met nietigheid gewandel het, of as my voet haastig was om te bedrieg; Laat my op 'n gelyke weegskaal geweeg word, sodat God my onkreukbaarheid kan ken. As my stap van die pad afgewyk het en my hart agter my oë aan geloop het, en as daar 'n klad aan my hande gekleef het; Laat my dan saai, en laat 'n ander een eet; ja, laat my nageslag uitgeroei word. As my hart deur 'n vrou bedrieg is, of as ek voor my naaste se deur gewag het; Laat my vrou dan vir 'n ander maal, en laat ander voor haar neerbuig. Want dit is 'n gruwelike misdaad; ja, dit is 'n ongeregtigheid om deur die regters gestraf te word. Want dit is 'n vuur wat tot vernietiging verteer en al my opbrings sal uitroei. As ek die saak van my dienskneg of van my diensmaagd verag het toe hulle met my getwis het; Wat moet ek dan doen as God opstaan? en as hy besoek, wat sal ek hom antwoord? Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? en het een ons nie in die moederskoot gevorm nie? As Ek die armes van hulle begeerte weerhou het, of die oë van die weduwee laat beswyk het; Of ek het my stukkie alleen geëet, en die wees het nie daarvan geëet nie; (Want van my jeug af is hy by my opgevoed soos by 'n vader, en ek het haar gelei van my moeder se skoot af;) As ek gesien het dat iemand vergaan weens gebrek aan klere, of enige arme sonder bedekking; As sy lendene my nie geseën het nie, en as hy nie warm gemaak is met die vlies van my skape nie; As ek my hand opgehef het teen die wees, toe ek my hulp in die poort sien: Laat my arm dan van my skouerblad af val, en my arm word van die been afgebreek. Want die vernietiging van God was vir my 'n verskrikking, en vanweë sy hoogheid kon ek dit nie verduur nie.

JOB 31:1-23 Die Boodskap (DB)

Job het gesê: “Ek het ’n vaste besluit geneem om nooit na ’n meisie te kyk en haar te begeer nie. Wat het God besluit moet ons kry? Wat is ons erfdeel van Hom? Is dit nie ellende en mislukking vir mense wat nie reg doen nie, maar hulle met slegte dinge besig hou? Hy weet presies wat ek doen en van elke tree wat ek gee. “Het ek vir enigiemand gelieg of ooit iemand bedrieg? Laat God my eerlik weeg en besluit of ek onskuldig is. Partykeer raak mense die pad byster. Ander mense wil weer alles hê wat hulle sien. Nog ander doen goed wat nie reg is nie. As ek soos hierdie mense is, mag iemand anders dan oes waar ek gesaai het. En mag die graan wat ek geplant het, uitgetrek word. “As ek deur ’n vrou verlei is of as ek my buurman se vrou bitter graag wou hê, laat my vrou dan vir ’n ander man kos maak. Of erger nog, laat ander mans by haar slaap. As ek aan hierdie dinge skuldig is, is dit ’n skande. Dan moet ek gestraf word. Dit is ’n vuur wat ’n mens verteer en jy eindig in die dood. Dit sal alles verwoes wat ek besit. “Ek het nog altyd my werkers reg behandel. As hulle met ’n klagte of ’n probleem na my toe gekom het, het ek geluister. Ek sou mos nie by God daarmee verby kon kom as ek dit nie gedoen het nie. Hoe sou ek myself by Hom kon verdedig as Hy my daaroor sou uitvra en ek skuldig was? God het mos vir my en my werkers gemaak. Een en dieselfde God het ons almal gemaak. “Was ek ooit onwillig om arm mense te help? Het ek ooit weduwees teleurgestel wat wou hê dat ek hulle moes help? Sê my ’n bietjie, was ek ooit suinig met kos vir die honger weeskinders? Wou ek dit miskien nie met hulle deel nie? Nee, glad nie! Vandat ek nog sommer baie jonk was, het weeskinders en weduwees my na aan die hart gelê. Ek het nog altyd vir hulle gesorg. As ek iemand gesien het wat nie ’n plek gehad het om teen die wind en weer te skuil nie of nie klere gehad het nie, het ek gehelp. Ja, hulle kon nie uitgepraat raak omdat ek vir hulle wolklere gegee het nie. As ek ooit ’n weeskind uitgebuit het om my te help om ’n hofsaak te wen, mag my skouers losskeur en my arms dan afval. Ek sou nooit so iets gedoen het nie, want ek is bitter bang vir God se straf. Teen God se grootheid het ek geen kans nie.

JOB 31:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ek het myself belowe dat ek nooit na ’n jong meisie sal kyk om haar te begeer nie. Wat het God daarbo vir ons gekies? Wat is ons erfdeel van die Almagtige? Dit is ellende vir die kwaaddoener en rampe vir die boosdoener. Sien Hy nie hoe ek optree nie? Tel Hy nie elke tree wat ek gee nie? “Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg? Laat God my dan weeg met die regte maatstaf. Hy ken my onskuld. Het ek van die regte pad afgedwaal? Of het ek iets begeer wat ek gesien het? Is ek skuldig aan enige ander sonde? Laat iemand anders dan oes wat ek geplant het en alles uitpluk wat ek gesaai het. “As ek verlei is deur ’n vrou of my buurman se vrou begeer het, mag my vrou aan ’n ander behoort en ander mans by haar slaap. Want wellus is ’n skandelike sonde, ’n misdaad wat gestraf moet word. Dit is ’n vernietigende vuur. Dit sou alles verwoes het wat ek besit. “As ek onregverdig was teenoor my manlike en vroulike werkers, of geweier het om na hulle te luister, hoe sou ek God in die oë kon kyk wanneer Hy my tot verantwoording roep? Wat sou ek antwoord as Hy my daaroor ondervra? Want Hy het my en my werkers gemaak. Hy is ons almal se Skepper. “Het ek geweier om die armes te help? Of die hoop vernietig van die weduwees wat na my gekyk het vir hulp? Was ek suinig met my kos en het ek geweier om dit te deel met honger weeskinders? Nee! Van jongs af sorg ek vir weeskinders soos ’n pa. My hele lewe lank gee ek om vir weduwees. Waar ek ook al mense dakloos en ’n arm man sonder klere gesien het, het hulle my geprys omdat ek vir hulle wolklere gegee het om hulle warm te hou. As ek gewelddadig was teenoor ’n weeskind omdat ek gedink het ek sou daarmee wegkom – mag my arm dan uit sy potjie gedraai word! Mag my arm van my skouer afgeruk word! Dit sou beter wees as om onder die oordeel van God te kom. Want as ek teen die Allerhoogste moet staan, watter hoop is daar vir my?