Johannes 1:1-14

Johannes 1:1-14 ABA

Die Woord was daar voor alles begin het. Die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was in die begin by God. God en die Woord het alles gemaak. God het niks alleen gemaak nie. Hy en die Woord het alles gemaak. Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense. Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie. God het 'n man gestuur, sy naam was Johannes. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig. Die Woord was die ware lig. Hy moes vir al die mense lig bring. Hy het klaar begin om na die wêreld te kom. Die Woord was in die wêreld. God en die Woord het die wêreld gemaak, maar die mense van die wêreld wou nie die Woord ken nie. Hy het na sy eie mense toe gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie. Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo. Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees. Elke mens het 'n pa, maar die kinders van God het nóg 'n pa. Hulle Vader is God self. Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon. Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is. Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom. Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid