Jesaja 33

33
Red ons wanneer dit sleg gaan met ons
1Daar is 'n volk wat ander volke
se lande verwoes het,
maar niemand het daardie volk
se land verwoes nie.
Daar is 'n volk wat ander volke
verraai het,
maar niemand het daardie volk
verraai nie.
Dit sal sleg gaan met daardie volk.
Wanneer hulle klaar verwoes het
en klaar verraai het,
dan sal ander volke daardie volk verraai
en hulle sal daardie volk se land verwoes.
2Here, wees asseblief genadig vir ons,
ons wag dat U ons moet help.
Maak ons elke oggend sterk,
red ons, want ons kry swaar.
3Wanneer U praat
en die volke hoor u stem,
dan vlug hulle.
Wanneer U opstaan en nader kom,
dan vlug die volke.
4Ander volke sal die goed wegvat
wat daardie volk gevat het.
Die ander volke sal soos sprinkane kom
en hulle sal alles wegvat.
5Die Here is bo almal,
want Hy woon in die hemel.
Hy sal sê,
en die mense in Sion
sal almal weer reg doen
en regverdig wees.
6Hulle sal altyd die Here vertrou.
Hy sal hulle red
en Hy sal vir hulle wysheid en kennis gee.
Hulle sal die Here dien,
dit sal hulle ryk maak.
Die land huil en treur
7Luister hoe roep die mense
van Jerusalem.
Hulle vra dat die Here
hulle moet kom help.
Luister hoe huil die boodskappers
wat moet sê daar is vrede.
8Niemand loop op die paaie nie,
niemand kom verby nie.
Die vyand het sy ooreenkoms
met ons gebreek.
Hulle het ons stede maklik oorwin,
ons mense kon hulle nie keer nie.
9Die land treur, alles word droog,
die Libanon-berg lyk
soos 'n mens wat bleek is,
die plante op die berg word droog.
Die Saron-vlakte is soos die woestyn.
Die bome in die land Basan
en op die Karmel-berg
se blare val af.
Wie kan woon by 'n vuur?
10Die Here sê: “Ek sal nou opstaan
en doen wat Ek wil doen.
11Alles wat julle doen,
is soos droë gras en kaf.
Julle het self 'n vuur aangesteek,
maar julle sal brand in daardie vuur.
12Volke sal verbrand
en hulle sal as word
soos doringbossies wat iemand afkap
en aan die brand steek.
13Volke wat ver is,
volke wat naby is,
julle moet hoor wat Ek doen,
julle moet weet hoe sterk Ek is.”
14Die sondaars in Sion skrik,
die slegte mense begin bewe.
Hulle sê: “Watter mense kan woon
by 'n vuur wat alles verbrand?
Wie kan woon by 'n vuur
wat altyd aanhou brand?
15Dit is die mense wat reg lewe
en wat die waarheid praat,
die mense wat nie
ander mense se goed vat
om hulleself ryk te maak nie,
die mense wat nie presente vat
om verkeerd te doen
aan ander mense nie,
die mense wat nie luister
na planne om mense te vermoor nie,
die mense wat nie verkeerd
wil doen nie.
16Hierdie mense sal hoog in die berge woon
en hulle sal veilig wees agter die rotse.
Hulle sal kos kry,
en hulle sal altyd water hê.”
Die Here sal ons red
17Julle sal self 'n koning sien
wat mooi klere dra,
en julle sal sien die land is groot.
18Dan sal julle onthou
hoe julle geskrik het
toe die vyande julle goed getel
en geweeg het om dit saam te vat,
en die torings getel het om dit af te breek.
19Maar julle sal nie weer
daardie hoogmoedige volk sien nie,
daardie volk wat 'n taal praat
wat julle nie kan verstaan nie.
20Kyk na Sion, na Jerusalem,
die stad waar ons bymekaarkom
om fees te vier.
Julle sal sien dit is 'n plek
waar julle veilig kan woon.
Dit is soos 'n tent
wat niemand afslaan nie,
niemand trek die tent se penne uit nie,
en die toue breek nie.
21Die Here sal daar vir ons
die God wees wat Koning is,
dit sal 'n plek wees waar daar riviere
en groot waterstrome is,
maar die roeibote en die oorlogskepe
van die vyande
sal nie daar kom nie.
22Ja, die Here is ons Regter,
die Here is ons Leier,
die Here is ons Koning.
Hy sal ons red.
23Die toue van die vyande
se skepe hang pap,
die toue hou nie die maspaal
van die skip regop nie,
die maspaal waaraan die seile is,
en die toue hou nie die seile
styf nie.
Daar is baie goed
wat julle kan vat,
ook die lam mense
sal alles vat wat hulle wil.
24Niemand in Jerusalem
sal sê hy is siek nie.
Die Here het die sonde vergewe
van die mense in die stad.

Tans Gekies:

Jesaja 33: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid