2 Konings 16

16
Agas, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 28:1-27)
1Agas seun van koning Jotam van Juda het koning geword in die sewentiende jaar nadat Peka seun van Remalja koning van Israel geword het. 2Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Hy was nie soos sy voorvader Dawid nie, hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. 3Hy het gedoen soos die konings van Israel, en hy het ook sy seun verbrand. Dit was een van die slegte dinge wat party van die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete. 4Agas het ge-offer en wierook gebrand op die offer-plekke en op die heuwels en onder elke groen boom. 5In die tyd toe Agas koning was, het Resin koning van Aram en Peka, seun van Remalja en koning van Israel, gekom om oorlog te maak teen Jerusalem. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad en hulle wou die stad aanval, maar hulle soldate kon nie in die stad inkom en begin oorlog maak nie. 6Dit was in die tyd toe koning Resin van Aram die stad Elat teruggevat het. Elat het toe weer aan Aram behoort. Resin het die Judeërs daar weggejaag. Daar het toe Arameërs na Elat gekom, en hulle woon vandag nog daar. 7Agas het boodskappers gestuur na koning Tiglat-Pileser van Assirië en hy het vir hom gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê, ek sal jou respekteer. Kom asseblief en red my van die koning van Aram en van die koning van Israel. Hulle val my aan.”
8Agas het die silwer en die goud gevat wat hy in die tempel kon kry, en hy het vir die koning van Assirië 'n present gestuur. 9Die koning van Assirië het gedoen wat Agas gevra het. Hy het die stad Damaskus aangeval en gevat. Hy het die mense van die stad gevang en weggevat na die land Kir en hy het vir Resin doodgemaak. 10Koning Agas het vir koning Tiglat-Pileser gaan ontmoet in Damaskus. Toe Agas die altaar sien wat daar in Damaskus is, het hy 'n klein altaartjie gemaak wat dieselfde lyk en hy het dit saam met 'n plan van die altaar vir die priester Urija gestuur. 11Die priester Urija het die altaar laat bou presies soos Agas vir hom uit Damaskus laat weet het. Die altaar was klaar voordat Agas teruggekom het van Damaskus. 12Toe die koning terugkom van Damaskus en hy sien die altaar, het hy self nader gegaan en op die altaar geklim. 13Hy het self sy brand-offer en sy koring-offer aan die brand gesteek. Hy het sy drank-offer uitgegooi en hy het die bloed van sy ete-offers op die altaar gespat. 14Hy het die brons-altaar wat altyd voor die tempel gestaan het, laat wegvat en hy het dit noord van die nuwe altaar laat sit. 15Koning Agas het vir die priester Urija gesê: “Jy moet op die groot altaar die oggend-brandoffer en die aand-koringoffer aan die brand steek, en ook die brand-offers van die koning en sy koring-offer, en die brand-offers van al die mense van die land, en hulle koring-offers en hulle drank-offers. Jy moet die bloed van al die brand-offers en die bloed van al die ander offers teen die altaar spat. Ek sal die brons-altaar gebruik om vir die Here te vra wat sal gebeur.”
16Die priester Urija het alles gedoen wat die koning vir hom gesê het. 17Koning Agas het die plate van die kante van die waentjies laat afhaal en hy het dit weggeneem. Hy het die waterbak van die brons-beeste afgehaal en hy het dit op plat klippe laat neersit. 18Hy het die pilaargang weggeneem wat hulle vir die Sabbatdag gebou het en ook die ingang waar die koning van buite ingegaan het na die tempel. Hy het gedoen wat die koning van Assirië wou hê.
19Al die ander dinge wat Agas gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 20Agas het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Hiskia het koning geword ná hom.

Tans Gekies:

2 Konings 16: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid