2 Konings 15

15
Ussia, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 26:1-23)
1Ussia seun van koning Amasia van Juda het koning geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het. 2Ussia was 16 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 52 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jekolja, sy was van Jerusalem. 3Ussia het dinge gedoen waarvan die Here hou, hy het gedoen soos sy pa Amasia. 4Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand. 5Die Here het die koning melaats laat word. Hy was melaats totdat hy gesterf het. Hy het apart in 'n huis gewoon, en sy seun Jotam het oor die paleis en die mense van die land regeer.
6Al die ander dinge wat Ussia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 7Hy het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Jotam het koning geword ná hom.
Sagaria, koning van Israel
8Sagaria seun van Jerobeam het in Samaria koning geword oor Israel in die ag-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sagaria was ses maande lank koning. 9Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy voorvaders. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. 10Sallum seun van Jabes het planne gemaak teen Sagaria en hy het Sagaria aangeval waar al die mense dit kon sien. Sallum het hom doodgemaak en hy het koning geword in Sagaria se plek.
11Al die ander dinge wat Sagaria gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 12Dit het gebeur soos die Here vir Jehu gesê het: “ Jou nageslag sal tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”
Sallum, koning van Israel
13Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sallum was een maand lank koning in Samaria. 14Menahem seun van Gadi het van die stad Tirsa na Samaria gekom. Hy het vir Sallum daar aangeval en doodgemaak. Menahem het koning geword in Sallum se plek. 15Al die ander dinge wat Sallum gedoen het en sy planne teen koning Sagaria is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 16Sallum was koning toe Menahem die stad Tifsag oorwin het. Hy het almal in die stad en naby die stad doodgemaak. Hy het van Tirsa gekom, en die leiers van Tifsag wou nie die poorte van die stad oopmaak vir hom nie. Hy het al die vroue in die stad wat babas verwag het, oopgesny.
Menahem, koning van Israel
17Menahem seun van Gadi het koning van Israel geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Menahem was tien jaar lank koning in Samaria. 18Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het sy hele lewe lank aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. 19Koning Pul van die land Assirië het gekom om Israel aan te val. Menahem het 1 000 talente silwer vir Pul gegee. Hy wou hê Pul moes hom help om koning te bly. 20Menahem het gesê elke man wat 'n stuk grond gehad het in die land Israel, moet 50 sikkels silwer vir hom gee. Hy het daardie geld vir die koning van Assirië gegee. Die koning van Assirië het toe teruggegaan, hy en sy manne het nie in die land gebly nie.
21Al die ander dinge wat Menahem gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 22Hy het gesterf, en sy seun Pekahia het koning geword ná hom.
Pekahia, koning van Israel
23Pekahia seun van Menahem het in Samaria koning van Israel geword in die vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Pekahia was twee jaar lank koning. 24Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. 25Peka seun van Remalja was 'n offisier van koning Pekahia. Peka het planne gemaak teen Pekahia en hy het Pekahia aangeval in Samaria in die toring van die paleis. Argob en Arje en 50 manne van Gilead was saam met Peka. Peka het vir Pekahia doodgemaak en hy het koning geword in Pekahia se plek.
26Al die ander dinge wat Pekahia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
Peka, koning van Israel
27Peka seun van Remalja het in Samaria koning van Israel geword in die twee-en-vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Peka was 20 jaar lank koning. 28Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. 29In die tyd toe Peka koning van Israel was, het koning Tiglat-Pileser van Assirië na Israel gekom. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor oorwin. Hy het die hele land Naftali, die land Galilea en die land Gilead gevat. Hy het die mense gevang en weggevat na Assirië. 30Hosea seun van Ela het planne gemaak teen Peka seun van Remalja. Hosea het Peka aangeval en doodgemaak en Hosea het koning geword in Peka se plek. Dit was in die twintigste jaar nadat Jotam seun van Ussia koning van Juda geword het.
31Al die ander dinge wat Peka gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
Jotam, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 27:1-9)
32Jotam seun van koning Ussia van Juda het koning geword in die tweede jaar nadat Peka seun van Remalja koning van Israel geword het. 33Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jerusa dogter van Sadok. 34Jotam het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy pa Ussia. 35Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand. Dit is Jotam wat die boonste poort van die tempel laat bou het.
36Al die ander dinge wat Jotam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 37In die tyd toe Jotam koning was, het die Here begin om vir Resin koning van Aram en vir Peka seun van Remalja te stuur om Juda aan te val. 38Jotam het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die stad van sy voorvader Dawid. Sy seun Agas het koning geword ná hom.

Tans Gekies:

2 Konings 15: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid