1 Samuel 8

8
1Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns gekies en aangestel om regters te wees oor die Israeliete. 2Die oudste seun se naam was Joël, en die tweede seun se naam was Abia. Hulle was regters in Berseba. 3Maar Samuel se seuns het nie gedoen soos hy nie. Hulle het gedoen wat die beste was vir hulleself. Hulle het ook omkoopgeld geneem en nie reg ge-oordeel nie. 4Die leiers van die Israeliete het toe bymekaargekom. Hulle het na Samuel toe gegaan in Rama 5en vir hom gesê: “Kyk, jy is al oud, en jou seuns doen nie soos jy nie. Jy moet nou vir ons 'n koning kies en aanstel om oor ons te regeer, dit is so by al die ander volke.”
6Samuel het gedink die leiers doen baie verkeerd toe hulle gevra het dat 'n koning oor hulle moet regeer. Samuel het tot die Here gebid, 7en die Here het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat die volk wil hê, want dit is nie vir jóú wat hulle nie wil hê nie, dit is vir Mý wat hulle nie wil hê nie. Hulle wil nie hê dat Ek hulle Koning moet wees nie. 8Hulle het dit gedoen vandat Ek hulle uit Egipte gebring het tot vandag toe. Hulle het My gelos en hulle het ander gode gedien, en nou doen hulle dieselfde met jou. 9Maar nou moet jy doen wat hulle vra. Jy moet hulle net eers ernstig waarsku en vir hulle sê wat die koning alles mag doen, die koning wat oor hulle sal regeer.”
10Die volk wou 'n koning hê, en Samuel het vir hulle alles gesê wat die Here vir hom gesê het. 11Hy het gesê: “Die koning wat oor julle sal regeer, mag baie dinge doen: Hy sal julle seuns vat en hy sal hulle aanstel by sy oorlogkarre of om op sy perde te ry of om voor sy oorlogkar te hardloop. 12Hy sal party van julle seuns aanstel om offisiere te wees, om sy grond te ploeg en koring te saai en af te sny, om wapens te maak of die goed wat hy by sy oorlogkar gebruik. 13Hy sal julle dogters vat om vir hom salf te meng of om vir hom te bak en kos te kook. 14Hy sal julle beste lande en wingerde en olyfboorde vat en hy sal dit vir sy amptenare gee. 15Hy sal 'n tiende van julle koring en julle druiwe vat en hy sal dit vir sy offisiere en sy amptenare gee. 16Hy sal julle beste slawe en slavinne en julle donkies vat en hy sal hulle gebruik om vir hom te werk. 17Hy sal 'n tiende van julle skape en bokke vat, en julle self sal sy slawe wees. 18Dan sal julle bid en vra dat die Here julle moet help teen die koning wat julle wou hê, maar die Here sal julle nie antwoord nie.”
19Maar die volk wou nie luister na Samuel nie. Hulle het gesê: “Nee, ons wil 'n koning hê. 20Ons wil wees soos al die ander volke. Ons koning moet oor ons regeer en hy moet ons lei wanneer ons oorlog maak.”
21Samuel het geluister na wat die volk sê en hy het dit vir die Here gesê. 22En die Here het vir Samuel gesê: “Jy moet doen wat hulle vra, jy moet vir hulle 'n koning kies en aanstel.”
Samuel het toe vir die leiers van Israel gesê: “Julle moet teruggaan, elkeen na sy stad.”

Tans Gekies:

1 Samuel 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid