ROMEINE 7:15-25

ROMEINE 7:15-25 NLV

Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek. As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie. Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek ervaar dus die volgende lewenswet: As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand. Ek verheug my immers in my diepste wese in die wet van God. Tog vind ek ’n ander wet in my binneste wat oorlog maak teen die wet van my gees en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat nog in my is. Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red? Die antwoord hierop is: Jesus Christus ons Here, en daarvoor dank ek God! Die saak staan dus so: Met my gees wil ek die wet van God gehoorsaam, maar as gevolg van my sondige natuur gehoorsaam ek die wet van die sonde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid