ROMEINE 7:15-25

ROMEINE 7:15-25 Die Boodskap (DB)

Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Dis nie meer ek wat in beheer van my eie lewe staan nie. Sonde is my baas. My lewe is nou so voorspelbaar soos kan kom. Elke keer as ek besluit om goed te doen, pootjie die sonde my. In my binneste is ek regtig bly dat ek God se wet ken. Maar wanneer ek die wet moet doen, wil die res van my liggaam nie saamwerk nie. In my doen en late geld daar dus ’n ander wet as in my binneste: die sonde. Ek is vasgevang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n gevangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos waarin my liggaam vasgevang is? Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy Naam is Jesus Christus! Hy is ons Here. In my binneste is ek gehoorsaam aan God. Maar wat die res van my liggaam doen, is iets heeltemal anders. Daar heers die sonde. Daarom het ek Christus broodnodig!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid