PSALMS 106

106
Die Here se genade op genade
1Prys die Here!
Dank die Here,
want Hy is goed!
Sy trou ken geen einde nie.
2Wie kan die magtige dade
van die Here beskryf,
of sy lof ten volle bekendmaak?
3Gelukkig is hy
wat geregtigheid laat geskied
en wat altyd doen
wat reg is.
4Dink aan my, Here,
wanneer U aan u volk
guns bewys;
kom my met u redding
tot hulp
5sodat ek deel kan hê
aan die voorspoed
van u uitverkorenes,
my verheug in die vreugde
van u nasie,
en U loof saam met u eie volk.
6Ons en ons voorouers
het gesondig.
Ons het oortree en is skuldig.
7In Egipte het ons voorouers
die Here se wonders
gering geag,
en sy baie dade
van goedheid vergeet.
By die Rietsee het hulle
teen Hom in opstand gekom.
8Tog het Hy hulle gered
ter wille van
die eer van sy Naam,
om sy mag
bekend te maak.
9Op sy bevel
het die Rietsee opgedroog
sodat Israel op die seebodem
kon trek.
Dit was so droog
soos ’n woestyn.
10Uit die vyand se mag
het Hy hulle gered
en hulle uit hulle teenstanders
se mag verlos.
11Water het toe hulle vyande
bedek.
Nie een van hulle
het dit oorleef nie.
12Toe eers het Israel
sy beloftes geglo
en het hulle sy lof besing.
13Tog het hulle
gou sy dade vergeet
en nie op sy leiding gewag nie.
14In die woestyn
het hulle begeertes opgevlam.
In die wildernis
het hulle God se geduld
beproef.
15Hy het gegee
wat hulle gevra het,
maar hulle ook getref
met ’n siekte.
16In die kamp
was hulle jaloers op Moses,
en ook Aäron,
wat aan die Here gewy was.
17Die aarde het oopgegaan,
Datan ingesluk,
en Abiram en sy bende begrawe.
18Onder die bende
het vuur gewoed,
vlamme het die bose mense verteer.
19By Horeb#106:19 ’n Ander naam vir Sinai.
het hulle ’n kalf gemaak,
en ’n beeld van metaal aanbid.
20Hulle roemryke God
het hulle verruil
vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
21Hulle het God vergeet,
hulle redder
wat in Egipte
groot dinge gedoen het:
22wonderlike dinge
in die land Egipte#106:22 ’n Ander naam vir Gam.,
ontsagwekkende dade
by die Rietsee.
23Hy het gesê
Hy sou hulle vernietig,
maar Moses, sy uitverkorene,
het vir die volk
in die bres getree
en gepleit
dat God hulle nie
in sy toorn vernietig nie.
24Maar die volk
het die vrugbare land verwerp,
en nie sy beloftes geglo nie.
25Hulle het in hulle tente gekla
en nie na die Here
geluister nie.
26Daarom het Hy ’n eed afgelê
dat Hy hulle in die woestyn
sal laat omkom,
27dat hulle nakomelinge
onder die nasies sou sterf,
en oor die aarde
verstrooi sou word.
28Maar hulle het Baäl-Peor
vereer
en geëet van die offers
wat aan dooie afgode gewy is.
29Met hulle dade
het hulle Hom getart
sodat ’n plaag hulle getref het.
30Maar Pinehas
het tussenbeide getree,
en so is die plaag gestuit.
31Hy is beskou
as ’n regverdige man,
geslag na geslag, vir altyd.
32By die waters van Meriba
het hulle die Here
kwaad gemaak,
en so het hulle vir Moses
ernstige probleme besorg.
33Hulle het hom opstandig gemaak
sodat hy onbesonne dinge
gesê het.
34Israel
het nie die nasies uitgeroei
soos die Here
hulle beveel het nie
35en het eerder
met die nasies vermeng
en hulle bose gewoontes
aangeleer.
36Hulle het die nasies se afgode
vereer,
en dit het vir hulle
’n strik geword.
37Hulle het hulle seuns
en dogters
aan demone geoffer.
38Hulle het onskuldige bloed
vergiet,
bloed van hulle seuns en dogters
wat hulle geoffer het
aan die afgodsbeelde
van Kanaän,
en so die land met bloed bevlek.
39Hierdie dade
het hulle onrein gemaak,
net soos iemand
wat egbreuk pleeg.
40Die Here se toorn
het teen sy volk ontbrand,
en Hy het sy eie volk verafsku.
41Hy het hulle oorgegee
aan die nasies;
hulle haters
het oor hulle geheers.
42Hulle vyande
het hulle verdruk
en aan hulle mag onderwerp.
43Baie kere
het Hy sy volk verlos,
maar hulle het opstandig gebly
en verder in hulle sondes
weggesink.
44Tog het Hy
hulle ellende raakgesien,
en geluister na hulle hulpgeroep.
45Hy het gedink
aan sy verbond met hulle,
en Hy was genadig
op grond van
sy onfeilbare liefde.
46Hy het bewerk
dat hulle veroweraars
hulle met medelye behandel het.
47 Here ons God, red ons!
Versamel ons weer
uit die nasies
sodat ons u heilige Naam
kan prys,
in U bly kan wees,
en U kan loof.
48Geseënd is die Here,
God van Israel,
van ewigheid tot ewigheid!
Laat die hele volk sê: “Amen!”
Prys die Here!

Tans Gekies:

PSALMS 106: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid