HOSEA 10

10
Die Here se oordeel oor Israel
1Israel is voorspoedig, soos ’n welige wingerd oortrek met vrugte. Maar hoe groter die voorspoed, hoe meer altare bou hulle vir vreemde gode. Hoe oorvloediger die land se opbrengs, hoe mooier maak hulle die klippilare. 2Hulle harte is vals. Hulle is skuldig. Daarom sal die Here hulle altare afbreek en hulle klippilare stukkend slaan.
3Dan sal hulle sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou ’n koning in elk geval vir ons kon doen?”
4Hulle laat die leë woorde rol, maak valse beloftes en sluit ooreenkomste wat hulle nie nakom nie. Hulle regspleging is soos giftige onkruid wat weelderig in die vore langs die landerye groei.
5Die inwoners van Samaria is bekommerd oor hulle kalwerbeeld in Bet-Awen#10:5 Dit beteken Huis van Skande en verwys na Bet-El.. Die mense treur oor hom, en sy priesters wat hulle verheug het in sy grootsheid sal weeklaag omdat sy aansien weggeneem is. 6Dit sal saam met hulle na Assirië toe geneem word as ’n geskenk vir die groot koning daar#10:6a Grondteks koning Jareb.. Israel#10:6b, 11 Grondteks Efraim, wat na die Noordryk verwys. sal verneder word en skaamkry omdat hulle op afgode vertrou het. 7Samaria sal verwoes word en sy koning sal soos ’n tak deur die water weggevoer word. 8Die hoogtes van boosheid waar Israel gesondig het, sal verwoes word. Dorings en onkruid sal hulle altare toegroei. Dan sal hulle vir die berge vra: “Begrawe ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!”
9Die Here sê: “Israel, sedert die dae van Gibea het julle net sonde op sonde gepleeg. Daar het julle bly staan. Weens julle boosheid sal oorlog julle sekerlik in Gibea inhaal. 10Ek sal kom om hulle te oordeel. Nasies sal teen hulle optrek om hulle oor hulle menigte sondes#10:10 Of oor hulle twee groot sondes, of dubbele sonde. te straf.
11“Israel#10:6b, 11 Grondteks Efraim, wat na die Noordryk verwys. is soos ’n geleerde vers wat daarvan hou om koring uit te trap. Maar nou sit Ek ’n swaar juk op haar mooi nek. Ek sal Israel inspan; Juda moet die harde grond omploeg terwyl Jakob sal moet eg. 12Ek het gesê: ‘Saai die goeie saad van geregtigheid en julle sal ’n opbrengs van my liefde oes. Ploeg die nuwe grond van julle harte, want dis nou die tyd om die Here te soek sodat Hy kan kom en geregtigheid oor julle uitstort.’
13“Maar julle het boosheid ingeploeg en ’n oes van sondes gekweek. Julle het die vrugte van leuens geëet. Jy het vir jou veiligheid staatgemaak op jou planne en jou militêre mag. 14Nou sal die ellende van oorlog op jou volk toesak. Al jou versterkte stede sal verwoes word net soos toe Salman#10:14 Verwys waarskynlik na Salmaneser V van Assirië of Salamanu, koning van Moab. vir Bet-Arbel verwoes het. Toe is selfs ma’s en kinders doodgeslaan. 15Bet-El, weens julle groot boosheid sal dieselfde lot julle tref. Teen dagbreek sal die koning van Israel daarmee heen wees.”

Tans Gekies:

HOSEA 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid