ESEGIËL 28

28
’n Boodskap vir Tirus se koning
1Die Here het vir my gesê: 2“Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige Here sê:
“Ewe trots het jy verklaar:
‘Ek is god!
Ek sit op die gode se troon
in die hart van die see.’
Maar jy is net ’n mens,
nie ’n god nie.
3Jy dink jy is slimmer as Daniël,
en dat daar geen geheim is
wat jy nie ken nie.
4Jy het groot rykdom versamel
met jou wysheid en insig.
Vol goud en silwer
is jou skatkamers.
5Jou vaardigheid in handeldryf
het jou baie ryk gemaak,
en dis juis jou rykdom
wat jou so hooghartig
gemaak het.
6“Daarom,
so sê die oppermagtige Here:
Jy dink jy is slimmer as ’n god.
7Daarom laat Ek ’n vyandige,
’n wrede leër teen jou optrek.
Hulle sal jou wysheid aanval
en al jou aansien verwoes.
8Hulle sal jou in die graf
laat beland.
Jy sal gewelddadig doodgaan
in die hart van die see.
9Sal jy by dié wat jou doodmaak,
nog spog: ‘Ek is ’n god!’?
Voor hulle
sal jy nie ’n god wees nie,
maar net ’n mens.
10Vreemdelinge
sal jou doodmaak
soos ’n heiden
doodgemaak word.
Ek, die oppermagtige Here,
sê so!”
11Die Here het ook vir my gesê:
12“Mensekind,
sing ’n begrafnislied
oor die koning van Tirus.
Sê vir hom
die oppermagtige Here sê:
Jy het wysheid en prag
vervolmaak.
13Jy was in Eden,
die tuin van God.
Jou klere was versier
met kosbare stene:
robyn, topaas, jaspis, chrisoliet,
oniks, opaal, saffier, turkoois,
en smarag.#28:13 Die identifikasie van sommige edelstene is onseker.
Hulle was almal in goud geset.
Jy het dit gekry
die dag toe jy gemaak is.
14Jy is aangestel
as die gerub wat alles oppas.
Ek het dit so bepaal.
Jy was op die heilige berg
van God.
Tussen glinsterende edelstene
het jy rondgestap.
15“Jy was onbesproke
in alles wat jy gedoen het,
vanaf die dag dat jy geskep is
tot op die dag
toe boosheid in jou gevind is.
16Jou uitgebreide handelsbetrekkinge
het jou gewelddadig gemaak
en jou laat sondig.
Daarom het Ek jou verban
van die godeberg af.
Ek het jou verdryf,
o gerub wat moes waghou!
Ek het jou verwyder
van tussen die glinsterende
edelstene.
17“Jy het trots geword
oor jou prag.
Jou aansien het veroorsaak
dat jy jou wysheid verloor het.
Daarom het Ek jou
op die aarde neergegooi,
voor konings wat toekyk.
18Met jou sondes
en oneerlike handelspraktyke
het jy jou heiligdomme
besoedel.
Daarom brand Ek jou af
tot net as sal oorbly,
terwyl almal toekyk.
19Almal wat jou geken het,
staan verstom
oor wat met jou gebeur het.
’n Verskriklike einde
het jou getref,
en jy bestaan nie meer nie.”
’n Boodskap vir Sidon
20Die Here het vir my gesê: 21“Mensekind, kyk in die rigting van Sidon en profeteer daarteen. 22Sê vir die mense van Sidon die oppermagtige Here sê:
“Ek is jou vyand, Sidon.
In jou sal Ek
my heerlikheid vertoon.
Wanneer Ek jou straf
en my heiligheid onthul,
dan sal hulle weet:
Ek is die Here.
23Ek stuur ’n plaag teen jou.
Bloed sal op jou strate vloei.
Die aanval kom uit elke rigting
en jou mense
sal in jou geslag word.
Dan sal almal besef
dat Ek die Here is.
24“Die mense van Israel
sal nie meer deur hulle bure
geminag word
soos wilderose en dorings
wat steek nie.
Dan sal alle mense besef:
Ek is die oppermagtige Here.”
Herstel van Israel
25So sê die oppermagtige Here: “Die mense van Israel sal weer in hulle eie land bly, die land wat Ek aan Israel#28:25 Grondteks Jakob., my dienaar, gegee het, want Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar Ek hulle verstrooi het. Daardie dag wys Ek vir die nasies dat Ek heilig is tussen die mense van Israel. 26Hulle sal veilig in Israel bly en huise bou en wingerde aanlê.
“Wanneer Ek hulle bure straf wat hulle met minagting behandel het, sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle God is.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 28: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid