ESEGIËL 29

29
’n Boodskap vir Egipte
1Op 7 Januarie, in die tiende jaar wat koning Jojagin in ballingskap was#29:1 Grondteks Op die twaalfde dag van die tiende maand van die tiende jaar, van die Hebreeuse kalender. ’n Aantal datums in Esegiël kan gekontroleer word met datums in bestaande Babiloniese rekords wat weer aan ons kalender gekoppel kan word. Hierdie gebeure speel af op 7 Januarie 587 vC., het die Here vir my gesê: 2“Mensekind, draai in die rigting van Egipte en profeteer teen die farao, die koning van Egipte, en al sy mense. 3Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:
“Ek is jou vyand, Farao,
koning van Egipte.
Jy is ’n groot monster
in die Nyl wat sê:
‘Die Nyl behoort aan my.
Ek het dit self gemaak.’
4Ek sit hake in jou kakebeen
en sleep jou uit die rivier
terwyl die visse vassit
aan jou skubbe.
5Ek gooi jou in die woestyn,
jy en al die visse in jou.
Niemand sal jou begrawe nie,
want Ek maak jou kos
vir die wilde diere en die voëls.
6“Die mense van Egipte
sal ontdek
dat Ek die Here is,
want jy was soos ’n riet
waarop Israel wou leun.
7Toe hy jou hand vat,
het jy gebreek
en in sy skouer gesteek.
Toe hy sy gewig op jou sit,
knak jy en beseer hy sy rug.
8“Daarom sê die oppermagtige Here: Ek bring ’n leër teen jou, Egipte, en vernietig jou mense en diere. 9Egipte sal ’n verlate puinhoop wees, en die mense van Egipte sal besef dat Ek die Here is.
“Want jy het gesê: ‘Die Nyl behoort aan my. Ek het dit self gemaak.’ 10Nou het Ek jou en jou rivier se vyand geword. Ek vernietig Egipte, van Migdol tot Aswan, tot by die grens van Kus. 11Vir 40 jaar lank sal niemand, nie ’n mens of dier, daar verbygaan nie. Niemand sal daar bly nie. 12Ek maak Egipte verlate, omring deur ander nasies wat verlate is. Die stede sal leeg en verlate lê vir 40 jaar, omring deur verlate stede. Ek verstrooi die mense van Egipte na verre lande.
13“Die oppermagtige Here sê ook nog: Aan die einde van 40 jaar bring Ek die mense van Egipte huis toe uit die lande waarheen hulle verstrooi was. 14Ek herstel die voorspoed van Egipte en bring hulle terug na die land van Patros, die land van hulle herkoms, maar dan sal Egipte ’n onbelangrike land wees.
15“Dit sal die kleinste van die nasies wees, nooit groot genoeg om hom weer bo die ander te verhef nie. Ek maak dit so swak dat dit nie weer oor ander nasies sal regeer nie.
16“Dan sal Israel nie weer in versoeking kom om op Egipte vir hulp te steun nie. Nee, Egipte sal Israel herinner hoe sondig hy was toe hy sy hoop op Egipte gestel het. Dan sal hulle besef dat Ek die oppermagtige Here is.”
Nebukadnesar gaan Egipte oorwin
17Op 26 April, in die 27ste jaar wat koning Jojagin in ballingskap was#29:17 Grondteks Op die eerste dag van die eerste maand van die 27ste jaar, van die Hebreeuse kalender. Dit gebeur op 26 April 571 vC., het die Here vir my gesê: 18“Mensekind, die leër van koning Nebukadnesar van Babilon het so hard teen Tirus baklei dat die soldate se koppe kaal geskaaf en hulle skouers deurgeskuur is. Maar hulle kon niks as buit uit Tirus saamneem om die soldate mee te vergoed nie. 19Daarom sê die oppermagtige Here: Ek gaan Egipte aan Nebukadnesar#29:19 Grondteks Nebukadresar, ’n variasie vir Nebukadnesar., koning van Babilon, gee. Hy dra Egipte se rykdom weg en plunder sy skatte om sy leër se lone te betaal. 20Ek gee hom Egipte as beloning vir sy werk, sê die oppermagtige Here, want hy het vir My gewerk toe hy Tirus verwoes het.
21“Daardie dag herstel Ek Israel se vroeëre eer. Dan sal mense na jou luister. En hulle sal weet dat Ek die Here is.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 29: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid