DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

God roep gewone mense vir sy doel
In die verhaal van Ragab tref ‘n belangrike waarheid ons: God roep en gebruik gewone, feilbare mense vir sy doel. Die Bybel is vol voorbeelde van mense met tekortkominge, swakhede en gebroke lewens wat geroep en gebruik is om God se heerlikheid te openbaar. Hierdie verhale herinner ons daaraan dat God nie volmaaktheid van ons verwag nie, maar eerder gewilligheid en geloof.
Neem byvoorbeeld Moses; hy het gehuiwer om God se opdrag uit te voer omdat hy nie welsprekend was nie, tog het God hom gebruik om die Israeliete uit Egipte te lei. Dink ook aan Gideon, wat homself as die geringste van die kleinste stamme beskou het: God het hom gekies om Israel van die Midianiete te red en deur ‘n klein leër het God hom die oorwinning gegee.
Dan is daar Petrus, die impulsiewe dissipel wat Jesus drie keer verloën het: tog het Jesus hom herstel en hom as een van sy vernaamste apostels aangewend. Selfs Paulus, wat Christene vervolg het, is geroep om een van die grootste sendelinge en skrywers van die Nuwe Testament te word. Paulus se swakhede en uitdagings het die perfekte agtergrond vir God se genade en krag geword om deur hom te werk.
Hierdie voorbeelde herinner ons dat God nie verwag dat mense volmaak moet wees voordat Hy hulle gebruik nie. Inteendeel, Hy gebruik juis ons gebrokenheid, ons foute en ons swakhede om sy wonderwerkende krag te openbaar.
Voel jy soms dat jy nie goed genoeg is om deur God gebruik te word nie? Onthou dat God nie van jou verwag om volmaak te wees nie – Hy wil net hê dat jy op Hom moet vertrou. Wanneer jy swak voel of bewus is van jou tekortkominge, weet dat God juis daar is om sy krag te openbaar.
Paulus het die waarheid sterk onderstreep: “Maar Hy het vir my gesê: ‘My genade is vir jou genoeg; my krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (2 Korintiërs 12:9). Bring jou feilbaarheid na Hom toe en laat Hom werk in en deur jou lewe.
Gebed
Here, dankie dat U ons as feilbare mense roep en gebruik om u wonderwerkende krag te openbaar. Ek bring my swakhede, foute en onsekerhede na U toe en vra dat U my sal gebruik, net soos ek is. Werk deur my om u doelwitte te bereik en u heerlikheid te wys. Gee my geloof en moed om altyd beskikbaar te wees vir u wil. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More