DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop预览

Genade lei ons na die beloofde land
Die verhaal van Ragab leer ons dat verlossing nie net ‘n bevryding uit sonde is nie, maar ook die deur oopmaak na ‘n nuwe en beter lewe, sowel as ‘n erfdeel in God se koninkryk – die beloofde land, gegee deur God se genade aan die gelowige.
In die Ou Testament was die beloofde land ‘n fisieke plek, ‘n land van oorvloed wat God aan Abraham en sy nageslag belowe het. Dit was die eindbestemming van Israel se reis uit Egipte en die teken van God se trou en voorsiening ná die verowering van Kanaän.
In die Nuwe Testament kry hierdie beeld ‘n dieper geestelike betekenis. Die beloofde land verteenwoordig nou die vervulling van God se beloftes in Jesus Christus – ‘n lewe van oorwinning, vrede en vervulling in Hom. Soos Hebreërs 4:1,7-9 sê:
“God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie... Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ‘n ander plek van rus gepraat het nie. Daar wag dus nog ‘n heel spesiale rus vir God se volk” (NLV).
Hierdie rus en oorvloed is nie net iets wat ons eendag ná hierdie lewe sal ervaar nie, dit is reeds binne ons bereik hier en nou. Deur geloof in Christus kry ons toegang tot al die geestelike seëninge wat God vir ons bestem het: oorwinning oor sonde, innerlike vrede en vreugde, ‘n lewe van vrugbaarheid en die sekerheid van die ewige lewe.
Elke dag bied ‘n nuwe geleentheid om deur geloof en gehoorsaamheid nader aan hierdie “beloofde land” te beweeg – ‘n lewe van volheid in Christus. Vra jouself af: Is daar iets in my lewe wat my keer om God se oorvloedige seëninge ten volle te beleef? Wat kan ek vandag doen om deur my geloof sy beloftes in besit te neem?
Gebed
Here, dankie dat U my nie net uit ons sonde red nie, maar my ook die beloofde land belowe. Gee my die moed om in u beloftes in te stap en U te dien met my hele hart. Mag my lewe U eer bring en ander aanmoedig om ook u genade en verlossing te ontvang. Amen.
读经计划介绍

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More