KykNET Lent Gids预览

KykNET Lent Gids

39天中的第10天

Bewondering en Respek

"Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit"
Filippense 4:8.

Volgens navorsing lyk dit nie asof ons kan wegkom van die tendens om onsself met ander te vergelyk nie. Dit lyk asof dit iets is wat met ons gebeur, eerder as ‘n keuse wat ons maak. Wat ons wel weet is dat ons ‘n keuse het oor wat ons gaan doen as ons agterkom dat ons besig is om te vergelyk. Ons kan m.a.w. kies om nie te swig voor die versoeking nie. Hoe meer ons ons eie gebrokenheid aanvaar, die diversiteit van gawes en ongelykheid in die lewe as ‘n gegewe aanvaar, hoe meer kan ons na ‘n plek van bewondering en respek beweeg. Ek kan iemand bewonder of respekteer as die persoon se vermoë of prestasies of karakter my inspireer. In plaas daarvan om te kompeteer en myself in die middelpunt van alles te plaas, kies ek eerder verbintenis en plaas iemand anders in die middel. Dit kan daartoe bydra dat ons onsself wil verbeter. Ons doen dit met ons sporthelde. Ons raak nie jaloers en afgunstig op hulle nie, maar bewonder hulle. Ons wil nie hulle plek neem of selfs soos hulle word nie. Ons wil ‘n beter weergawe van onsself word.

Bewondering en respek kan ook aanbidding genoem word. Dit is wat met ons gebeur as ons sien en agterkom wie Hy is. Ons voel klein, nederig en word aangetrek om nader te beweeg en ‘n verbintenis te maak. Om oneerbiedig te wees, beteken om nie die verwagte respekvolle reaksie teenoor die belangrike, gewigtige en heilige in die lewe te toon nie. Ons lag soms vir die ligsinnige, oneerbiedige humor, maar kan nooit lekker daarna voel nie.

Die uitnodiging vir die dag is om na drie mense naby jou te kyk met oë van bewondering en respek. Wat is daar wat waar, mooi, edel en rein in hulle is? Bekendheid maak alles in en om jou dood. Kyk na hulle wat jy ken totdat hulle onbekend raak. Dank Hom vir wat Hy vir hulle gegee het en sê vir hulle wat jy van hulle bewonder.

Herhaalgebed:

Here, ek vra vir die genade van ‘n lewe vry van vergelyking.

读经计划介绍

KykNET Lent Gids

Lydenstyd nooi my om dit wat ek eerder vermy, in die gesig te staar — my verganklikheid, my gebrokenheid, my hartseer en teleurstellings.

More