Kom, Here Jesus, Kom预览

Lees: Johannes 14:1–4
SOAP: Johannes 14:3
“En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Oordenking
Ek hou van die versekering in Jesus se woorde. Ja, Hy sou weggaan, maar nie vir lank en nie vir altyd nie. Sy vertrek het ‘n groter doel gehad. Ons bevind ons in ‘n wagtydperk terwyl ons gretig na sy wederkoms uitsien.
Ons weet Jesus is betroubaar. Ons weet dit uit die profesieë wat Jesus gemaak het wat reeds plaasgevind het, soos die vernietiging van die tempel in Jerusalem, sy eie lyding en dood, die vervolging van die apostels, en die verkondiging van die evangelie in die hele wêreld. Jesus is betroubaar en as Hy sê Hy gaan terugkom, kan ons ons laaste sent daarop verwed.
Watter bemoedigende vers om op te fokus terwyl ons wag op sy koms. Jesus is besig om so ‘n ongelooflike plek vir ons in die hemel gereed te maak dat geen herehuis op hierdie aarde en geen huisopknappingprogram naastenby daarby kan kers vashou nie. Niks op hierdie wêreld kom naby aan hoe wonderskoon, volmaak en ongelooflik ons hemelse woning gaan wees nie, deur die hemelse Meestertimmerman self opgerig. Ek kan met sekerheid sê dit gaan ons verbeelding oortref. Die asemrowendste sonsondergang of rustig golwende heuwels waarna ons kan kyk, kan nie naastenby vergelyk met die skoonheid wat Jesus vir ons in die vooruitsig het nie.
Nietemin is die heel beste deel daarvan dat Jesus saam met ons daar gaan wees. Nooit ooit gaan ons weer van Hom geskei word nie.
Gebed
Dankie Here, vir u liefde vir my. Dankie vir u vrygewigheid en begeerte dat ek vir ewig saam met U moet lewe. U is goed, en alles wat U doen is goed. Dankie vir die hemelse tuiste wat U skep wat ek eendag in u teenwoordigheid sal kan geniet. Veral op die dae wanneer die sorge van hierdie wêreld my onderkry, help my om te onthou dat ek kan uitsien na wat in die toekoms voorlê. Help my om my oë op U gefokus te hou sodat ek kan vashou aan die hoop op die hemel. U is so goed vir my, en ek is U vir ewig dankbaar. Tot die dag wanneer U my huis toe neem, sal ek bid, kom, Here Jesus, kom. Amen.
读经计划介绍

Ek glo ons almal voel dit aan. Daar het ‘n verskuiwing gekom. Die wêreld voel buite beheer en dit lyk asof wat ons oor die laaste dae in die Bybel gelees het, voor ons oë bewaarheid word. Ons dae is ‘n mengelmoes van vrees, misleiding en onenigheid. Kyk ons na die toekoms, voel baie van ons wanhopig. Die antwoord is God. God is ons hoop en ons bestemming.
More