Kom, Here Jesus, Kom预览

Lees: Openbaring 3:10–11
SOAP: Openbaring 3:10
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.
Oordenking
Hierdie verse wat oorspronklik aan die gemeente in Filadelfia geskryf is, kan as kontroversieel beskou word, na gelang van jou siening van die eindtyd. Sommige geleerdes het hierdie verse gelees en glo dat dit ‘n belofte is dat die kerk as geheel die verdrukking in die eindtyd gespaar gaan bly (1Tessalonisense 4:13—5:11). Ander geleerdes glo egter weer dat hierdie verse slegs op die gemeente in Filadelfia betrekking het, met verwysing na ‘n spesifieke tyd van beproewing en vervolging in hulle tyd en omgewing.
Hoe dit ook al sy, ons weet Jesus kom terug. Dit is tegelyk ‘n feit en ‘n belofte. God kan kies om die kerk te verwyder voor sy laaste toets of verdrukking soos dit soms genoem word, soos toe Hy Noag uit die vloed en Lot uit Sodom verwyder het. Of Hy kan toelaat dat die kerk deur die verdrukking gaan en haar beskerm, soos wat Hy met Israel in Egipte, of met Daniël in Babilon gedoen het. Hoe dit ookal sy, ons weet dat God voorsorg vir sy bruid getref het. Hy het nog altyd, te midde van verskriklike vervolging deur die eeue heen, die kerk met krag en moed toegerus en Hy doen dit tot vandag nog.In plaas daarvan dat ons toelaat dat die interpretasie van eskatologiese gebeure verdeeldheid veroorsaak, laat ons verenig bly rondom die belofte van Jesus se wederkoms en ons hoop op ‘n ewigheid saam met Hom.
Gebed
Dierbare Here, dankie vir die belofte dat U altyd by ons is, tot aan die einde van die tyd. Help ons om nie ons harte en gedagtes deur vrees te laat oorneem nie, maar gee vir ons bonatuurlike moed om die wêreld sonder vrees in die oë te kyk, met die wete dat U ons stryd vir ons stry. Help ons om te dink aan ons vervolgde broers en susters regoor die wêreld wat tans groot probleme ter wille van u Naam verduur. Dankie Here vir u goedheid in ons lewens en die geseënde hoop wat ons in ons harte kan omdra terwyl ons uitsien na ons toekoms wat ons tot in ewigheid saam met U in die hemel gaan deurbring! Tot daardie glorieryke dag, sal ons aanhou bid kom, Here Jesus, kom. Amen.
读经计划介绍

Ek glo ons almal voel dit aan. Daar het ‘n verskuiwing gekom. Die wêreld voel buite beheer en dit lyk asof wat ons oor die laaste dae in die Bybel gelees het, voor ons oë bewaarheid word. Ons dae is ‘n mengelmoes van vrees, misleiding en onenigheid. Kyk ons na die toekoms, voel baie van ons wanhopig. Die antwoord is God. God is ons hoop en ons bestemming.
More