Saam Met Jesus in Die Boot보기

Saam Met Jesus in Die Boot

7 중 3 일째

Eenvoud is Jesus se manier

Die lewe is kompleks, veral nou! Nuwe planne moet gemaak word om te oorleef. Sommige mense moet selfs van voor af begin. Ontleders sê vir ons dat die wêreld in die volgende paar jaar dalk meer eenvoud gaan ken. Mense gaan minder luuks leef. Beheptheid met handelsmerke gaan afneem. Duur vakansies, lang sakereise en uitbundige inkopie-sessies gaan heroorweeg word. Baie mense het agtergekom hulle het toe nie so baie dinge nodig om van te leef as wat hulle gedink het nie. Die meeste van ons is skielik armer. Ons het dus geen ander keuse as om eenvoudiger te leef sodat ons eenvoudig net kan oorleef nie. Dis ook nie ’n slegte ding nie.

Eenvoud is Jesus se roete. Hy leer ons dat ons lewe se waarde nie gemeet word aan ons besittings nie. Jesus het ons ook geleer as ons die koninkryk van God met alles in ons soek, sal daar altyd ’n stukkie daaglikse brood op ons tafels wees. Jesus leer ons in Matteus 10 dat ons hemelse Vader so intens betrokke by ons lewens is dat Hy selfs weet van elke haar op ons koppe. Hy gee in detail vir ons om. Hy is in die detail van ons lewens by ons aanwesig. Daarom is ons ryk. Daarom het ons genoeg van sy goedheid en guns. Kom ons sien dit raak en leef dankbaar, en ook eenvoudiger.