YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 3

3
1Die stem sê toe vir my: “Mensekind, eet wat Ek jou gee. Eet hierdie boek. En gaan dan en gee hierdie boodskap vir die volk Israel.”
2Ek het toe my mond oopgemaak en Hy het my die boek gegee om te eet. 3“Eet dit alles. Eet jou versadig daaraan,” sê Hy. En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning geproe.
4Toe sê Hy: “Mensekind, gaan na die volk Israel met my boodskappe. 5Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk wie se taal jy nie verstaan nie. 6Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk met ’n vreemde of moeilike taal nie. As Ek jou na húlle toe gestuur het, sou hulle geluister het. 7Ek stuur jou na die volk Israel, maar hulle sal nie na jou luister nie, net soos hulle nie na My luister nie. Want die hele spul van hulle is hardkoppig en hulle harte is hard. 8Maar kyk, Ek het jou net so hardkoppig en koppig gemaak soos hulle. 9Ek het jou so hard soos ’n rots gemaak. Daarom moet jy nie vir hulle bang wees nie, ook nie as hulle jou kwaai aankyk nie, want hulle is ’n opstandige klomp.”
10Toe voeg Hy by: “Mensekind, laat al my woorde eers diep in jou eie hart ingaan. Luister eers self sorgvuldig daarna. 11Gaan dan na jou volk wat in ballingskap is en sê vir hulle: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê.’ Doen dit of hulle na jou luister of nie.”
12Die Gees het my toe opgetel, en ek het ’n harde dreuning agter my gehoor wat sê: “Mag die heerlikheid van die Here in hierdie plek geprys word!”#3:12 Dié vers kan ook vertaal word: Toe die Gees my opgetel het, en die heerlikheid van die Here van daardie plek weggegaan het, het ek agter my ’n harde gerommel gehoor. 13Dit was die geluid van die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het en die gerommel van die wiele onder hulle.
14Die Gees het my toe opgetel en weggevat. Ek was verbitterd en kwaad, maar die Here het my veilig vasgehou. 15Ek het by die Judese ballinge gekom wat langs die Kebarrivier bly. Ontsteld en verstom het ek sewe dae lank tussen hulle gesit.
’n Wagter vir Israel
16Toe die sewe dae verby is, het die Here vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: 17“Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. As jy ’n boodskap van My af kry, moet jy dit dadelik vir die volk gee. 18As Ek die bose mense waarsku en sê: ‘Jy verdien die doodstraf,’ maar jy waarsku hulle nie, sal hulle doodgaan vanweë hulle afskuwelike dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou, en hulle bloed van jou eis. 19As jy hulle waarsku en hulle hou aan om afskuwelike dinge te doen en weier om om te draai, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Maar jy sal jou eie lewe red omdat jy gedoen het wat vir jou gesê is.
20“As goeie mense die slegte begin doen en Ek hulle dan laat struikel om hulle te waarsku#3:20 Grondteks en Ek ’n struikelblok voor hulle sit., sal hulle doodgaan. As jy hulle nie oor die gevolge van hulle optrede waarsku nie, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Die goeie wat hulle voorheen gedoen het, sal hulle dan nie help nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou en hulle bloed van jou hand eis. 21Maar as jy hulle waarsku en hulle draai om, sal hulle lewe, en jy sal ook jou eie lewe red.”
22Toe het die Here van my besit geneem en vir my gesê: “Gaan uit na die vallei toe. Ek wil daar met jou praat.” 23Ek het opgestaan en gegaan, en daar het ek die heerlikheid van die Here gesien, net soos in my eerste visioen by die Kebarrivier. En ek het op my gesig op die grond neergeval.
24Toe het die Gees oor my gekom en my regop laat staan. Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis. 25Daar sal jy met toue vasgebind word sodat jy nie tussen jou mense kan kom nie. 26En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klou sodat jy hulle nie kan waarsku nie, want hulle is ’n opstandige spul. 27Maar wanneer Ek vir jou ’n boodskap gee, sal Ek jou tong losmaak sodat jy kan praat. Dan sal jy vir hulle sê: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê!’ Party sal na jou luister en ander sal weier, want hulle is ’n opstandige klomp.”

Currently Selected:

ESEGIËL 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy