1 Korinthiërs 14
14
1Hardloop agter liefde aan en wees ywerig vir die gawes van die Gees, maar veral om te profeteer,
2want hy wat in ’n taal praat, praat nie met mense nie, maar met God, want niemand verstaan wat hy sê nie, maar deur die Gees praat hy geheime.
3Hy wat profeteer, praat egter woorde van opbouing, aanmoediging en vertroosting tot mense.
4Hy wat in ’n taal praat, bou homself op, maar hy wat profeteer, bou die gemeente op.
5Ek wens dat julle almal in tale mag praat, maar meer nog dat julle profeteer, want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale praat, of anders moet hy dit vertaal. As hy vertaal, word die gemeente opgebou.
6Nou, my broers, as ek na julle toe kom en in tale praat, tot watter voordeel sal ek vir julle wees as ek nie met julle praat òf deur ’n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?
7Selfs vir lewelose dinge wat ’n klank gee, ’n fluit of ’n harp, as hulle nie ’n verskil in note maak nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of harp gespeel word?
8Ook, as die ramshoring ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die geveg?
9Net so ook julle, as julle woorde in tale praat en dit nie vertaal nie, hoe sal ’n mens enige iets weet wat jy sê? Julle sal wees soos een wat in die lug praat.
10Let op, daar is baie soorte tale in die wêreld en geeneen daarvan is sonder klank nie.
11As ek nie die betekenis van die taal ken nie, is ek vir die een wat praat ’n vreemdeling en die een wat praat sal vir my ’n vreemdeling wees.
12Terwyl julle ’n ywer het na die gawes van die Gees moet julle net so oorvloediglik soek na dit wat die gemeente sal opbou.
13Laat hom wat in tale praat, bid dat hy dit kan vertaal,
14want as ek in tale bid, dan bid my gees, maar my verstand is vrugteloos.
15Wat sal ek daarom doen? Ek sal bid met my gees en ek sal ook bid met my verstand. Ek sal sing met my gees en ek sal ook sing met my verstand.
16Anders, as jy met die gees ’n seën uitspreek, hoe sal hy wat nog onkundig is, ‘Dit is waar’ sê op jou seën, aangesien hy nie verstaan wat jy sê nie,
17want jou seën is wel goed, maar die ander een word nie opgebou nie.
18Ek dank my God dat ek meer in tale praat as julle almal,
19maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te leer, as tien duisend woorde in tale.
20My broers, moenie kinders in julle verstaansvermoë wees nie, maar wees babas tot boosheid en wees ten volle volwasse in julle verstaansvermoë. `Amos 5:15; Rom 16:19
21In die wet is geskryf: “Ek sal deur vreemde spraak en deur ’n ander taal met hierdie mense praat en dan sal hulle ook nie na My luister nie,” sê יהוה.” Deut 28:49; Yes 28:11-12
22So is tale, as 'n teken, vasgestel, nie vir dié wat vertrou nie, maar vir die ongelowiges, maar profesie is nie vir die ongelowiges nie, maar vir dié wat vertrou;
23daarom, as die hele gemeente bymekaarkom en hulle sou almal in tale praat en die oningeligtes of ongelowiges kom in, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig geword het nie?
24As almal van julle sal profeteer en daar ’n ongelowige of ’n oningeligte inkom, dan word hy deur almal ondersoek en deur almal aangespreek
25en die geheime van sy denke, wil en emosie word openbaar en dan sal hy op sy gesig neerval, God aanbid en sê dat God werklik in julle is.
26Ek sê daarom my broers, dat wanneer julle bymekaarkom, wie van julle ook al ’n gedig met musiek het, laat hom praat, of wie ook al ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n vertaling het, laat alles wees tot opbouing.
27As mense in ’n taal praat, laat dit dan wees twee of hoogstens drie; laat elkeen praat en laat een vertaal,
28maar as daar geen vertaler is nie, laat hy wat in ’n taal praat in die gemeente stilbly en laat hy net met homself en met God praat.
29Laat twee of drie profete praat en laat die ander dit onderskei
30en as daar iets openbaar word aan ’n ander een wat sit, laat die eerste een stilbly,
31want julle kan almal een vir een profeteer sodat almal kan leer en almal versterk word,
32want die gees van die profeet is aan die profeet gehoorsaam,
33want God is nie ’n God van onbeheersdheid nie, maar van vrede, vreugde, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, soos in al die gemeentes van die afgesonderdes.
34Laat julle vrouens in die gemeentes stilbly, want dit is hulle nie toegelaat om te praat nie, maar om onderdanig te wees, net soos die geskrewe wet sê.
35As hulle iets wil leer, laat hulle by die huis hulle eie mans vra, want dit is skandelik vir daardie vrou om in die gemeente te praat.
36Of het die boodskap van God van julle af uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?
37As iemand onder julle dink dat hy ’n profeet, of van die Gees is, laat hy weet dat wat ek vir julle skryf, opdragte van ons Meester is,
38maar as iemand dit nie weet nie, sal hy onkundig bly.
39Beywer julle daarom, my broers, om te profeteer en moenie die praat in tale verbied nie,
40maar laat alles in ordentlikheid en met orde gedoen word.
S'ha seleccionat:
1 Korinthiërs 14: SPC
Subratllat
Copia
Compara
Comparteix
Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.