Prediker 1
1
1Die woorde van die prediker, die seun van Dawid, koning in Yerushalayim.
2Kortstondigheid van kortstondigheid (vlugtig), sê die prediker, kortstondigheid van kortstondigheid, dit is alles kortstondig!
3Watter voordeel het die mens van al sy harde werk waarmee hy hom vermoei onder die son?
4Een geslag gaan verby en die ander geslag kom, maar die aarde bly vir ewig. Ps 104:5
5Die son kom op en die son gaan onder en haas hom na die plek waar hy opgekom het sodat hy weer daar kan opkom.
6Die wind waai na die suide en draai om na die noorde, dit draai voortdurend en keer weer terug volgens sy kringloop.
7Al die riviere loop in die see, tog is die see nie vol nie; na die plek vanwaar die riviere loop, keer dit terug om weer te loop.
8Alles is uitputtend, ’n mens word nie tevrede gestel deur te praat nie, sy oog word nie bevredig deur te sien nie en ook nie sy oor deur te hoor nie.
9Dit wat was, is dit wat sal wees en dit wat gedoen is, is dit wat gedoen sal word en daar is niks nuuts onder die son nie.
10Wie ook al praat en sê: “Kyk, dit is nuut,” moet weet dat dit reeds was in die geslagte voor ons.
11Daar is geen nagedagtenis van vorige geslagte nie en daar sal ook nie herinneringe wees van geslagte wat kom by hulle wat daarná kom nie.
12Ek, die prediker, is koning oor Yisra’el in Yerushalayim.
13Ek het met my verstand, wil en emosie, met wysheid alles ondersoek wat onder die hemel gedoen word; om daarmee besig te wees, is ’n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het.
14Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word en kyk, dit was alles kortstondig en ’n ergernis van gees.
15Die chaotiese kan nie ordelik gemaak word nie en hy wat kennis ontbreek, kan nie voorsien word nie.
16Ek het met myself gepraat en gesê: “Let op, ek het groot geword en meer wysheid bekom as almal wat voor my in Yerushalayim was. Ja, my verstand het baie ondervinding van wysheid en kennis.
17Ek het my verstand gegee om wysheid, spreuke en insig te ken, maar ek het ook ingesien dat dit ’n ergernis van gees is,
18want in baie wysheid is baie verdriet en hy wat kennis vermeerder, vermeerder smart.
S'ha seleccionat:
Prediker 1: PWL
Subratllat
Copia
Compara
Comparteix
Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.