DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopVoorbeeld

Drie dae van genade
In Josua 2:16 gee Ragab aan die twee verspieders ‘n spesifieke opdrag: “Gaan na die bergagtige gebied toe,” het sy vir hulle gesê, “die soldate sal julle nooit daar kry nie. Kruip dan vir drie dae daar weg totdat die mense wat na julle soek, terugkom Jerigo toe. Daarna kan julle teruggaan na julle eie mense toe” (NLV).
Hierdie drie dae van wegkruip in die bergland was nie net vir die verspieders ‘n tyd van veiligheid nie, maar ook van voorbereiding vir die toekoms. Hierdie drie dae herinner ons aan die tydperk wat Jesus in die doderyk deurgebring het. In Matteus 12:40 sê Jesus:
“Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees” (NLV).
Hierdie tyd in die doderyk was nie net ‘n tydperk van stilstand nie, maar ook ‘n tyd waarin God se plan van verlossing en oorwinning in werking was. Jesus se drie dae in die doderyk het ‘n blywende impak op die geskiedenis gehad – dit was die oorgang van oorwinning oor sonde en die dood. Vir die verspieders was die drie dae ‘n tyd van beskerming, ‘n wagperiode voordat hulle na die veiligheid van Israel kon terugkeer.
Net so het Jesus se drie dae in die graf die oorgangstyd geword waarin Hy die dood oorwin het en die weg gebaan het vir ons om veilig in die belofte van die ewige lewe terug te keer.
Hierdie twee gebeure in die geskiedenis herinner ons daaraan dat God soms stilstand in ons lewens toelaat om sy planne te vervolmaak. Die drie dae mag dalk soos wag en onsekerheid voel, maar dit is tye waarin God besig is om sy doelwitte te bereik.
Soos die verspieders na die veiligheid van Israel kon terugkeer en Jesus uit die graf opgestaan het, so kan ons weet dat ons drie dae — ons wagperiodes — deur God gebruik word om ons na oorwinning en vervulling te lei.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U die tye van wag en stilstand in ons lewens gebruik om u planne te vervul. Help ons om in geloof te bly vertrou, selfs wanneer ons nie u handewerk kan sien nie. Dankie vir die oorwinning van Jesus wat drie dae in die doderyk deurgebring het, sodat ons lewe kan hê. Lei ons ook om u tyd en weë te vertrou. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.
More
Ons wil graag Dr. Ernrich F Basson bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.collage.org.za