Die Onderstebo Koninkryk: 'n 8-dag Studie deur die SaligsprekingeVoorbeeld

The Upside Down Kingdom: An 8 Day Study Through the Beatitudes

DAG 5 VAN 8

Die Aangesig van Genade

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).

LAAT ONS BEGIN

'n 70-jarige vrou, Marinella Beretta, is in Prestino naby die Comomeer in Noord-Italië in haar huis dood aangetref. Sy het in 'n gemummifiseerde toestand aan haar tafel gesit toe die polisie haar oorskot ontdek het — meer as twee jaar nadat sy oorlede is. Dit blyk dat Marinella se bure haar vir minstens twee-en-'n-half jaar nie gesien het nie. Sy was "die verpersoonliking van eensaamheid," volgens Massimo Gramellini, 'n joernalis wat hiervan verslag gelewer het. “Mense sterf alleen. Ons leef ook alleen, wat amper erger is.”

Die slotwoorde van sy artikel is veroordelend: “Die raaisel van Marinella se onsigbare lewe agter die geslote hek van haar huisie leer ons ’n verskriklike les. Die werklike hartseer is nie dat die ander nie haar dood agtergekom het nie. Dit is dat hulle nie besef het dat Marinella Beretta lééf nie.”

OORDENKINGS-INSIG

Aangesien ons die barmhartigheid van God ontvang het, moet ons bewus wees van die behoeftes van ander. Dit is so maklik om die behoeftes van ons familielede te ignoreer wat saam met ons lewe. Om nie eens te praat van bure en vriende wat ons nie te siene kry nie. Ons is egter geroepe om dit raak te sien.

WAARNEMINGS

Jesus roep ons om die nood van ander raak te sien en deernis en barmhartigheid te betoon. “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie” (Matteus 9:36). Dit is die hartklop van ons saligspreking wat Calvyn beskryf het as "saam met ons naaste te ly" en dus empatie aan hulle te bewys.

Om God se barmhartigheid aan ander te bewys, sal nie 'n klein druppeltjie barmhartigheid voortbring nie, maar eerder 'n massiewe vloed. “Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: ‘Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?’” (Matteus 18:21).

Vergifnis is nie 'n voorbeeld van blote welwillendheid nie; dit is 'n daad van geloof en hoop wat na die eindtyd vooruitwys. Met ander woorde, deur ander te vergewe, is 'n uitdrukking van ons geloof dat Christus sal terugkeer en alles in barmhartigheid sal regstel. Ons verlossing stel ons in staat om die ergste vorms van boosheid met hoop tegemoet te gaan. Paulus sê in Romeine 5:20: “... hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.”

TOEPASSING

Omdat God alleen ons wonde ten volle kan genees en die dooies weer kan opwek, moet ons sy genadige hart verkry as ons ander wil vergewe. Met die oog hierop het Jesus gesê: “... Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34).

Kom ons bid dat die Here ons harde, onvergewensgesinde harte sal verander. Elke keer wanneer ons barmhartigheid, vergifnis en deernis in die naam van Christus betoon — 'n liefde wat iemand anders van sy skuld vergewe — reik ons vorentoe na sy komende heerskappy; 'n koninkrykseën wat ons hier op aarde geniet soos dit in die hemel is.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

The Upside Down Kingdom: An 8 Day Study Through the Beatitudes

In die saligsprekinge (Matteus 5:2-12) spoor Jesus ons aan om onsself van die wêreld af te sonder, deur in 'n teenkultuur te leef met 'n nuwe identiteit wat in Hom gewortel is. Die Onderstebo Koninkryk ondersoek hierdie teenintuïtiewe wysheid sowel as die relevansie daarvan vir vandag.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/