KersfeesoordenkingsVoorbeeld

Die Groot Dag Breek Aan
Uiteindelik vind die geboorte plaas: 'n pasgebore kind in 'n krip, sy ouers en die skaapwagters. Hierdie verhaal kon dalk met verloop van tyd vergete geraak het, as dit nie was vir die kind wat op daardie wintersdag gebore is nie.
Die krip was heel moontlik in 'n aangeboude deel van die familie se huis, waar die diere aangehou en gevoer is. Die meeste kinders is nie in paleise gebore of in plekke wat baie skoon was nie. Baie kinders het tydens geboorte of kort daarna gesterf.
'n Tydjie voor die geboorte het die goewerneur, in opdrag van keiser Augustus, afgekondig dat alle mans na hulle tuisdorp moes gaan om geregistreer te word — soortgelyk aan 'n volkstelling, maar met slegte nagevolge vir diegene wat dit nie sou doen nie.
Vir Josef en Maria was dit 'n baie ongeleë tyd, want sy sou van Nasaret tot by Betlehem moes reis tydens die laaste dae van haar swangerskap. Die reis was uitputtend en lank — 145 km. Ons weet nie hoe lank hulle daar was voor die groot dag aangebreek het nie, maar dit blyk dat dit nie te lank was nie. Die dorp sou stampvol gewees het, so dit sou nie ongewoon wees om nie 'n geskikte plek te vind vir die geboorte nie, alhoewel dit beslis ongerieflik sou wees.
Baie van die dinge wat Maria se gehoorsaamheid aan God ingesluit het, was, om die minste te sê, ongerieflik. Dis nie wys om te sê dat gehoorsaamheid aan God se wil altyd gerieflik, eenvoudig of sonder probleme gaan wees nie. Maria het minagting van en uitwerping uit haar uitgebreide familie (drie keer waarvan ons weet) in die gesig gestaar, sowel as die uiterste smart vir 'n moeder — die dood van haar kind: “'n swaard sal deur jou siel gaan.” Toe Maria gesê het: “Laat met my gebeur wat u gesê het,” kon sy nie besef wat die implikasies sou wees nie, en ons besef dit ook nie wanneer ons "ja" sê vir die Here nie. "Ja" is egter die enigste moontlike reaksie, want om "nee, Here" te sê, is ondenkbaar. "Ja" is altyd die beste reaksie, want al is dit moeilik, bring dit ook diep vervulling en vrede en 'n wete dat God tevrede is met jou. Met ander woorde, ons is baie beter daaraan toe, al kom dit nie altyd so voor nie.
Die groot dag breek aan en Jesus Christus, die Woord wat mens word, word gebore as 'n hulpelose kind op 'n onwaarskynlike plek tussen onwaarskynlike mense. Hy is nie in 'n paleis gebore nie; Hy was nie omring met voorregte nie, en het beslis nie in 'n eeu geleef met gespesialiseerde pasgebore hospitaaldienste nie.
Die konings van Israel, die hoëpriesters en Romeinse afgevaardigdes was almal opsigtelik afwesig. Het enigiemand dit opgemerk? Ja, maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag.
'n Groot dag, dié grootste dag vir die wêreld, het sonder ophef verbygegaan. Daar het egter daardie dag iets wonderliks, iets baie moois, in die krip plaasgevind. Die kind van ons verlossing het opgedaag. God wat tussen mense woon — God met ons.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Ons Kersverhaal begin met die engel se aankondiging aan Maria en sluit af met die besoek van die sterrekykers. Ek sal meestal verwys na Lukas in die oordenkings en besprekings van die Kersverhaal aangesien die Evangelie van Lukas die volledigste aantekeninge bevat.
More