Leesplan inligting

Hoop in die Teenwoordigheid van GodVoorbeeld

Hoop in die Teenwoordigheid van God

DAG 1 VAN 5

Die hoop sing


Daar is iets in hierdie liedere, soos in Dawid s’n, wat soos Mozart se sonates klink. Die stemming verander, maar saam vorm dit ’n merkwaardige, volkome, emosionele geheel. Hierdie Psalms (van 37 tot 43) laat ’n mens veral dink aan Mozart se klarinetkonsert met sy vinnige, vrolike eerste beweging en sy tweede, stadige beweging met die aangrypende melodie wat ’n knop in die keel bring. Dis so vol verlange en eensaamheid en tog ook so bekend en vertroostend, met weerklanke uit die ewigheid. Dis of ons dit eens gehoor het, ligjare tevore, en eens weer sal hoor vorentoe, maar dan geheel volmaak en voltooid.


Die hoop sing: “Die Here sal oordag sy goedertierenheid gebied”; die geloof sing selfs “in die nag sal sy lied by my wees”; en die liefde sing van ’n “gebed tot die God van my heil”. En die refrein gaan voort tot in Psalm 43: “Wat buig jy jou neer, o my siel? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof” (v. 5, AFR53).


’n Lied in die nag: dit het ek soms as kind gehoor wanneer die Kersnagkore deur die donker strate van my geboortedorp van huis tot huis geloop en sing het — van ’n kind in Betlehem en ’n helder ster. Iets slepend en vol herinnering het uit die eenvoudige pogings tot harmonieë opgeklink. Die mense wat kom sing het, was meesal arm arbeiders wat met reg kon vra na ’n plek in die son.


Presies soos die psalmdigter vra dat die Here weer sy guns moet gebied, dat hy “dors na God”, dat hy gespot word en verlang na die dae van “feesvierende menigtes”. Hier sing die terneergedruktheid, en die woorde treur oor alles wat verby is of selfs nooit was nie, soos dit soms in ons lewe opklink. Tog, ook in die nag bly God ons Verlosser, en in die nag is Hy wakker om ons hartseerlied en gebed te hoor. En mettertyd verskyn die lig: eers die môrester en dan die eerste strale van die son van genade. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Hoop in die Teenwoordigheid van God

Die hartklop van hierdie oordenkings is om jou elke dag daaraan te herinner dat God oral en altyd tot in die fynste besonderhede betrokke is by elkeen van sy kinders. Dit sal jou bemoedig om nooit aan sy nabyheid en hoop...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid