Leesplan inligting

Woorde wat Lewe GeeVoorbeeld

Speaking Life

DAG 4 VAN 6

Selfgesprek 


Die hardste stem wat ons hoor, is ons eie. Die stem hier binne … ons selfgesprek. Dis so stil, maar so kragtig. Selfgesprekke is 'n werklikheid. 'n Selfgesprek is iets wat ons regdeur ons wakker ure van nature doen. Dit is 'n vorm van neuro-taalkundige programmering. Weens die herhalende aard hiervan, het dit die vermoë om ons bewussyn te vorm en te slyp.


Ons vyand is 'n vernietiger. Van ons vroeë kinderjare af vertel hy graag vir ons leuens, om ons sodoende te oortuig dat hierdie valshede werklik ons waarheid is. Al wat egter van ons waar is, is wat God, die Wewer, Kenner, Ontwerper en Skepper van ons sê. Kan ons onderskei tussen hierdie twee stemme? Die een bring lewe en die ander bring dood — en gewoonlik ook 'n stadige, moeisame dood. 


Ons het vroeër bespreek hoe ons gedagtes in woorde uitgedruk word. Nou hoor ons hoe ons in gesprek met onsself tree. Dikwels word dit wat ons sê, ons werklikheid. As ons dink of sê dat ons stom, onnosel of vet is, is dit waarskynlik dat ons 'n lewe lei waarin ons gedrag presies so is. Tog, wat daarvan as ons eerder met ons Skepper saamstem dat ons op 'n "wonderbaarlike wyse geskep" is? (Psalm 139:14) Sy meesterstuk is? Dogter van 'n Koning? Sou ons dan anders lewe? Wanneer ons anders dink, lewe ons ook anders. Om anders te dink, verander jou siening, wat weer verander wat jy sê en hoe jy in hierdie wêreld optree.


Positiewe selfgesprekke: Dit lei mense om meer bewus te word dat 'n positiewe selfgesprek 'n kragtige instrument is om ons selfvertroue te laat toeneem en dit keer negatiewe emosies. Dit is 'n merkwaardige strategie vir verandering. Positiewe woorde doen ons gesondheid goed, omdat hulle ons selfvertroue 'n hupstoot gee, ons gemoedstoestand verbeter, spanning uitskakel en ons hart se gesondheid en algemene welstand verbeter. Mense wat positiewe selfgesprekke kan bemeester, word beskou as meer selfversekerd, gemotiveerd en produktiewer. God het ons geskape om 'n oorvloedige lewe te lei. Is jou selfgesprekke in pas met sy plan en woorde oor jou?


Negatiewe selfgesprekke: Ons word ook al hoe meer bewus van die uitwerking wat innerlike kritiek, oftewel, negatiewe selfgesprekke het. Dit beïnvloed jou selfbeeld, jou lewensuitkyk, jou energievlakke, jou verhoudings en selfs jou gesondheid. Deur bewus te word van 'n negatiewe selfgesprek, kan ons die proses begin om hierdie vernietigende gewoonte te onderbreek. Dit is tyd om daardie negatiewe stem in jou kop stil te maak en lewegewende waarhede in jou lewe toe te laat.


Ons selfgesprekke maak beslis saak. Skenk aandag daaraan. Dit is meestal so 'n gewoonte om negatiewe dinge oor en van jouself te sê, dat jy eintlik totaal onbewus is dat jy dit doen. Ek wonder of jy nie vir die volgende 24 ure aandag wil skenk aan jou gedagtes en kennis neem hoe jy oor jouself praat nie? Verbind jouself daartoe om negatiewe selfgesprekke uit te skakel. Bring dan jou gedagtes en woorde in pas met sy kragtige waarhede.


Oordink:


Op watter maniere kan jy jou selfgesprekke in pas bring met dit wat God oor jou sê? Is jy vriendelik met jouself? Ken jy jou identiteit in Christus en kom dit na vore wanneer jy praat?


Gebed:


Here, help my om te glo dat ek is wie U sê dat ek is. Gee dat u stem die hardste stem in my lewe sal wees. Gee dat my woorde u hart in my hart laat weerklink.


Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Speaking Life

Woorde, woorde, woorde, kragtige woorde! Woorde wat opbou of woorde wat afbreek. Woorde wat lewe gee of woorde wat die dood bring. Die keuse is ons s'n. Kom ons beoordeel die betekenisvolle mag wat ons woorde inhou.

Ons dank gaan aan Roxanne Parks wat hierdie plan voorsien het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.roxanneparks.com/home.html

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid