Leesplan inligting

Koeke en terteVoorbeeld

Koeke en terte

DAG 5 VAN 7

Skouterte


In teenstelling met die Skoukoeke ontmoet ek gereeld by vrouefunksies ook die swierige Skouterte met die lae ryk room. Jy kan hulle nie miskyk nie, al wil jy ook. Hulle trek dadelik jou aandag omdat hulle so blink. Hierdie vroue is altyd van kop tot toon met die een of ander duur lyfroom bedruip.


Is dit dalk Skouterte se subtiele manier om na my en al die droë koekies, skons, beskuitjies en biltongterte, die Skoukoeke, in die saal uit te reik? Is dit miskien ’n gratis skoonheidswenk aan ons “droës” om voortaan meer nat bestanddele by ons resep in te werk, in plaas daarvan om nog poeier op te gooi wat die plooie tog so genadeloos blootlê? Wie weet wat hulle motivering met die baie lae room is?


Wat ek wel weet, is dat hierdie skoonhede met die klam velle, vals wimpers en lang jelnaels se fokus nie op huisvlyt, handewerk, vergaderings of die organisering van funksies is nie. Skouterte belê hulle tyd en geld veel eerder in hulle uiterlike voorkoms. Hulle fokus is om te alle tye goed te lyk en self tentoongestel te word. Aan die buitekant is hulle die toonbeeld van elke man se droomvrou.


Skouterte is altyd baie goedversorg en glad nie common nie, hoor! Jy kan hulle enige minuut van enige dag (of nag) deur die spreekwoordelike ring trek. Hulle is op ’n permanente gereedheidsgrondslag – in die hoop om ontdek te word vir hulle skone bates.


Ons vroue is die skoner geslag, die finishing touch van God se handewerk. Geen wonder dat ons soveel klem op uiterlike skoonheid lê nie. Die media doen ook baie moeite om ons onder die indruk te plaas van hoe uiters belangrik uiterlike skoonheid in die oë van die wêreld is. Die pad na sukses en erkenning is baie steiler vir die onaansienliker, ronder en valer vroue onder ons, word ons gereeld vertel. Ons word oral gebombardeer met allerlei skoonheidswenke om uiterlik al mooier te lyk.


’n Goed versorgde en stylvolle vrou wat haar uiterlike skoonheid na vore bring, is beslis ’n lus vir die oog. Dit wys jy doen moeite met jou voorkoms en het respek vir jouself. Ek self sal nie eens daaraan dink om sonder grimering by ’n funksie op te daag nie. Ek dink ook lank voor die tyd al wat ek gaan aantrek om mooi te lyk.


Uiterlike voorkoms is ’n wonderlike bonus en gee aan elke vrou ’n hupstootjie in haar selfvertroue. Maar innerlike skoonheid het ewigheidswaarde. Wanneer jy gestroop is van alle uiterlike versierings, is jy steeds lieflik met hierdie innerlike grimering en kan jy steeds met selfvertroue jou kop omhoog hou.


Stilwordtyd by God vir Skouterte


Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:


· Wat het my getref? Bid daaroor.


o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:


o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?


o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?


o Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Koeke en terte

Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en and...

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid