100 dae van dankbaarheid

Dag 1 van 7 • Vandag se leesstuk

Bybeldagboek

  


Elke dag se “dankies”


“Wat is aanbidding?” vra ’n vrou een aand by ons selgroepbyeenkoms. “Dis ’n lewenswyse,” antwoord iemand.


“Dit gaan oor jou hart,” sê ’n ander.


Ons het begin antwoorde soek, en later ook in die Ou Testament gaan draai waar Dawid voor die ark van die Here gedans het. Toe is ons saam met die hoëpriesters die tabernakel binne, tot in die Allerheiligste.


Maar uiteindelik het ons tot stilstand gekom by die praktiese kant van aanbidding: dankbaarheid.


Dit was eers toe een vrou haar eenvoudige antwoord op “Wat is aanbidding?” gee, dat ons gesprek behoorlik op dreef gekom het: “Aanbidding,” het sy gesê, “is om elke dag vir God dankie te sê.”


Ná ’n rukkie het sy bygevoeg: “Ek wonder of God verveeld raak met my dankies, want ek sê elke dag vir dieselfde dinge dankie. Wanneer ek soggens my oë oopmaak, sê ek dankie dat ek kan sien, dat ek ’n dak oor my kop het, dat ek ’n werk het, en dat ek kos het om te eet.”


Ons het geleer dat God nooit ’n hart sal miskyk wat in dankbaarheid voor Hom opgaan nie. Dat Hy nooit “verveeld” raak met ons “dankies” nie. Dis immers ons erkenning van sy versorging en sy genade in ons lewe. Dis ons liefdevolle kopknik na ’n Vader wat ook in die eenvoudige, alledaagse dinge voorsien.




Hoewel ons daardie aand oor aanbidding gesels het, het ons gesprek dus uiteindelik oor dankbaarheid gehandel. Dit was ons manier om die aanbidding van God vir onsself prakties, eenvoudig en doenbaar te maak.


En dit het ons gelaat met die diep wete dat ons daaglikse “dankies” in werklikheid aanbidding is. Al klink dit elke dag dieselfde.


GEBED: Here, ek aanbid U en eer U. U is die God wat elke dag en elke nag vir my sorg.