Leesplan inligting

Gesinspret met Kersfees deur Ewald & Beatrix van Rensburg Voorbeeld

Gesinspret met Kersfees deur Ewald & Beatrix van Rensburg

DAG 4 VAN 5

Geduld, woede se teenvoeter


Beste en slegste


Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.


Waar het jy Jesus vandag ontmoet?


Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.


• Skryf al die dinge neer wat jy in die verse leer van geduld.


• Skryf nou op grond van die verse ’n goeie definisie van geduld neer.


Gedagte vir die dag


Een goeie definisie van geduld is om mekaar nog ’n kans te gee, nuwe lewe te gun omdat God dit elke oomblik met ons doen, al maak ons Hom seer.


In die Nuwe Testament het geduld twee betekenisse. Die eerste betekenis het te doen met ’n gesindheid van nooit tou opgooi nie en altyd verby die onmiddellike kyk, want jy is in harmonie met God!


Die tweede betekenis van geduld is verdraagsaamheid teenoor ’n person wie se gedrag bedoel is om jou woede te laat ontvlam! Met ander woorde: Geduld stel jou deur die Heilige Gees se krag in staat om onder moeilike omstandighede nie moed te verloor nie en om met pyn in die nek-mense klaar te kom! Geduldig is hoe God elke oomblik optree! 


• Dink in die eerste plek net aan God, hoe Hy maak en hoe Jesus opgetree het, dan sal jy iets verstaan van geduld!


• As jy dan in die tweede plek geduld op jou verhoudings toepas, beteken dit dat jy nie verder jou eie belange eerste stel nie en geduldig gaan wees met diegene wat jou irriteer en seermaak. Hoekom? Omdat hulle, net soos jy, nie volmaak is nie.


• In die derde plek beteken geduld om te vergewe, sewentig maal sewe keer. Hoekom? Want geduld laat jou elke oomblik dink aan jou eie sonde en skuld en hoe God daarmee gewerk het. Hoe Jesus met mense gewerk het. Daarom werk Jesus-volgelinge ook so, ons is in die vergifnisbedryf, ons is deel van die vergifnis-konsessie! Daarom weet ons dat God ons vergewe en hoeveel Hy ons vergewe en dat ons ook mekaar moet vergewe.


Doen saam


Versprei geduld oral waar jy gaan. Wees in al jou verhoudings ’n lewende toonbeeld van God se geduld, veral gedurende hierdie Advent seisoen van gee, gemeenskap en liefde.


Gebed


Ons weet so min van wat geduldige liefde regtig is. Ons liefde word beklad deur jaloesie, gewond deur woede en beperk deur selfsug. Leer ons wat geduld regtig beteken sodat ons voluit kan liefhê soos U ons liefhet. Amen.


Leef jou geloof


Stuur ’n boodskap van aanmoediging vir iemand wat ’n fout gemaak het.


Net vir ouers


Wees geduldig met jou kinders se foute en ook jou eie. Leer hulle om daaruit te leer en weer te probeer.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Gesinspret met Kersfees deur Ewald & Beatrix van Rensburg

Hierdie 5-dag-leesplan is ideaal vir Advent-oordenkings vir die hele familie en sal verhoudings, spanwerk, geduld en oorweging aanmoedig. Elke dag bevat Bybelverse, ’n geleentheid vir gesinslede om oor hulle dag te praat...

More

Ons wil graag vir Struik Christian Media en Ewald en Beatrix van Rensburg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/nader-aan-god-nader-aan-mekaar-flex-cover

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid