Die Leerstellings Van GenadeVoorbeeld

Onweerstaanbare Genade
As sondaars, wil ons aan alles deel hê — ons wil selfs deel van ons eie verlossing wees. Die waarheid is egter dat dit nooit iets was waarin ons kon deelneem nie. Dit is 'n genadegawe … en ook die grootste geskenk wat ons ooit kan ontvang. Efesiërs 2:8-9 verklaar: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie." Geloof en bekering is gawes van God … af en gedaan. Dit sou nie genade gewees het as ons iets daarmee te doen gehad het nie (sien Handelinge 11:18). Die leerstellings van genade wys God se oppermagtige wil in ons almal se lewens. Die leerstelling waarop ons vandag gaan fokus, is God se onweerstaanbare, ewige onderhoudende genade.
Ek ontmoet selde Christene wat die eer vir hul verlossing aan hulself toeëien. Indien dit wel gebeur, kon ek waarskynlik sê dat hulle nie die volle verdorwenheid van hulle sonde begryp en die krag van God om te verlos nie. Daar is iets van ware genade in die hart van iemand wat onlangs tot bekering gekom het, wat veroorsaak dat ons dwarsdeur ons lewens alle heerlikheid aan God wil gee. As ons die mag gehad het om onsself te kon red, hoekom sou sommige dan tot geloof kom wanneer hulle die evangelie hoor en ander nie? Is dit omdat ons slimmer en minder sondig is as diegene wat hulle van die geloof af wegkeer? Beslis nie. Ons kan weet ons word nie deur ons eie toedoen gered nie, maar slegs deur die Goddelike genade van God. Dit is wat ons bedoel met onweerstaanbare genade.
Die leerstellings van genade word so genoem omdat dit herhaaldelik na genade terugkom. As God jou eers gewen en jou sonde blootgelê het, word die evangelie op 'n onweerstaanbare wyse geopenbaar. Ons beweer nie dat elke invloed van die Heilige Gees nie weerstaan kan word nie — inteendeel, ons beklemtoon die feit dat die Heilige Gees in sy Goddelike uitverkiesing, alle weerstand kan oorkom en sy invloed onweerstaanbaar maak. Paulus sê in 1 Korintiërs 1:22-24: "Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God." God se effektiewe roeping aan ons, oorwin ons weerstand teen die evangelie. Die weerstand weerspreek nie God se opperheerskappy nie — dit lê eerder sy oppermagtige weë meer volledig bloot. God laat weerstand toe en Hy oorkom dit wanneer Hy so verkies volgens sy volmaakte tydsberekening (verwys Psalm 115:3 en Daniël 4:35). Dit moet dus voor die hand liggend wees dat onweerstaanbare genade nooit suggereer dat God ons dwing om teen ons wil in Hom te glo en Hom te volg nie. Om te glo, te bely en Hom te volg is altyd uit ons vrye wil. In wese, sou ons onsself weerspreek as ons sê God dwing ons om in Hom te glo (sien Romeine 9:14-23).
Paulus se onderrig illustreer dit regdeur die Skrif en die teendeel sou God se wil bevraagteken. Paulus reageer in Romeine 9:20-21 deur uit te roep: "Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: 'Waarom het jy my so gemaak?' Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" Ons harte is so vreeslik boos dat selfs al sou ons God wou ken, sou ons nie deur ons eie wil dit kon doen nie. Ons sondigheid is verblindend — iets so vuil en onrein kan nooit die aangesig van God sien nie, tensy Hy ons eers na Hom toe bring nie. Onweerstaanbare genade verwys na die oppermagtige werk van God om die sondige rebellie van ons harte te oorkom en ons na Christus te roep sodat ons gered kan word. Ons moet ons algehele verdorwenheid ten volle begryp om onweerstaanbare genade te kan aanvaar. As ons dood in ons sonde is, nie in staat om ons lewens aan Christus toe te wy nie vanweë ons gevalle geaardheid, dan sal ons nooit by Christus uitkom nie, tensy God ons persoonlik na Hom toe roep en dat Hy ons rebellie oorkom. Romeine 8:7-8 verklaar: "Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie." Die persoon wat dus beweer ons kan ons vryheid gebruik om God se genade te aanvaar of te verwerp, moet verstaan dit is nie Bybels nie. Die Bybel leer ons dat diegene wat in die vlees is, kan en sal, God nooit behaag nie. Dit is slegs deur 'n Goddelike ingryping — deur sy wilsbesluit — en as Hy ons 'n nuwe en nederige geaardheid gee om dit te doen. Charles Spurgeon het gesê: "Ons glo wedergeboorte, bekering, heiligmaking en geloof is nie 'n daad wat die mens uit sy eie vrye wil en krag kan doen nie, maar deur die magtige, doeltreffende en onweerstaanbare genade van God alleen." Hierdie openbaring behoort ver bo bevrydend te wees. Die druk van verlossing lê nie meer swaar op ons skouers nie; inteendeel, ons verlossing is in die hande van ons ewige Vader ... en in sy hande rus daar genade op genade.
Deur Raegan Thornhill
Besprekingsvrae vir jou joernaal:
1. Het jy al gehoor of geleer van die leerstelling van onweerstaanbare genade? Indien wel, wat het jy gedink beteken dit? Indien nie, wat was jou onmiddellike reaksie daarop? Waarom is dit 'n belangrike leerstelling om te verstaan?
2. Wat dink jy het Jesus in Johannes 3:5 bedoel met "As iemand nie uit water en Gees gebore word nie?" Wat dink jy beteken dit in hierdie konteks om uit water en Gees gebore te word? Het hierdie oordenking jou begrip daarvan verander?
3. Hoe is die gedeelte in Esegiël 36:25-27 'n uitbeelding van wedergeboorte asook 'n voorafskaduwing daarvan?
Meer oor Onweerstaanbare Genade
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 5-dag leesplan is 'n in-diepte studie oor die leerstellings van genade. T.U.L.I.P is 'n teologiese akroniem wat die opperheerskappy van God verhoog. Die verheerliking van God se genade, is die waarheid waaraan uitdrukking in die leerstellings van genade gegee word.
More